Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-07 Reporter: Dries Liebenberg

'Al Roep Regter Zuma na Hof, Mag hy Swyg'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-07

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Selfs al roep die staat of die verdediging nié adj.pres. Jacob Zuma as getuie nie, is dit steeds moontlik dat hy gevra kan word om in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik te getuig.

Al word Zuma nie aangekla nie, staan hy sentraal tot die aanklagte teen Shaik. Die staat voer aan dat Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, die politikus oor jare effektiewelik bindgeld betaal het om sy private belange te bevorder.

Die staat beweer ook dat Shaik as middelman betrokke was by die omkoop van Zuma deur 'n Franse verdedigingsmaatskappy in ruil vir beskerming in die ondersoek na beweerde ongerymdhede met Suid-Afrika se wapenaankope.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) het reeds by monde van mnr. Sipho Ngwema aangedui dat die staat nie van plan is om Zuma as getuie te roep nie.

Zuma, wat volhou dat hy onskuldig is, het verlede jaar ook geweier om voor regter Joos Hefer te getuig oor bewerings dat adv. Bulelani Ngcuka, destydse direkteur van openbare vervolging, 'n apartheidspioen was.

Volgens prof. Robin Palmer van die Universiteit van KwaZulu-Natal se regsfakulteit is 'n regter by magte om enigiemand as getuie te roep as hy reken daardie persoon kan help om helderheid in die saak te bring. 'n Regter kan selfs toesien dat iemand vir dié doel gedagvaar word, het Palmer gesê.

Hy het daarop gewys dat 'n getuie die reg het om nie vrae te beantwoord wat hom sal inkrimineer en later aan vervolging blootstel nie.

Omdat Zuma so sentraal tot die staat se bewerings staan, reken Palmer dat dit die hof nie veel sal help om hom te dwing om te kom getuig nie.

Die Hefer-kommissie het ondanks politieke druk ná briefwisseling met Zuma besluit om hom nie te dwing om te getuig nie.

Zuma en Thales International, die maatskappy wat hom na bewering omgekoop het, sal hul eie regsverteenwoordigers in die hof hê wanneer Shaik se verhoor Maandag begin. Die staat beweer

Die aanloop

Shaik en sy maatskappye betaal tussen 1995 en 2002 na bewering R1,34 miljoen aan Zuma, wat glo telkens in 'n finansiële verknorsing was.

Begin 1999 skryf een van Shaik se maatskappye R1,28 miljoen hiervan af.

Shaik het Zuma effektiewelik bindgeld (retainer) betaal. In ruil hiervoor:

Beveel Zuma 'n Maleisiese groep (Renong) in 1997 aan om Shaik se Nkobi-groep as bemagtigingsvennoot te kies vir die ontwikkeling van Durban se Punt-waterfront.

Zuma beveel Nkobi in 1999 op 'n regeringsbriefhoof aan as vennoot vir 'n ekotoerisme-skool in KwaZulu-Natal.

Zuma tree as "bemiddelaar" op tussen Shaik en Thomson- CSF, waarna Nkobi ingesluit word by die subkontrak vir korvet-wapenstelsels.

Omkoopgeld vir wapenondersoek

Shaik en mnr. Alain Thétard van Thomson CSF Africa kom op 30 September 1999 in Durban byeen oor betaling vir Zuma.

11 Maart 2000: Zuma gee 'n bevestigende teken tydens 'n ontmoeting tussen hom, Thétard en Shaik in Durban.

Mnr. Jean-Paul Perrier, hoof van Thomson-CSF International, keur betalings van R500 000 per jaar goed.

Zuma skryf op 19 Januarie 2001 aan mnr. Gavin Woods, Skoor-voorsitter, dis nie nodig dat die Heath-eenheid die wapenaankope ondersoek nie.

Die betaling

Shaik sluit in 2000 'n "diensverskafferooreenkoms" met Thétard waarby R1 miljoen betrokke is.

Zuma moet R1,34 miljoen betaal vir die ontwikkeling van sy woning in Nkandla.

Shaik skryf aan Thétard oor Thomson-CSF nie by die ooreenkoms hou nie.

Thales (voorheen Thomson-CSF) betaal op 16 Februarie 2001 R250 000 aan Kobitech van die Nkobi-groep as diensverskaffertarief.

Op 24 Februarie 2001 betaal Kobitech drie tjeks vir R250 000 elk (twee vooruitgedateer) aan Development Africa van die miljoenêr-sakeman mnr. Vivian Reddy, wat die Nkandla-ontwikkeling help finansier.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.