Alle Oë op Shaik se Verhoor |
Publication | Volksblad |
Date | 2004-10-11 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Vandag begin die hofsaak wat Suid-Afrika se volgende president kan bepaal.
Regter Hillary Squires en sy twee assessore sal vanoggend die regbank in hof A van die Durbanse hooggeregshof bestyg om oorweging te begin skenk aan 'n verhoor wat na verwagting maande kan duur - met die hoogste pos in die Suid-Afrikaanse politiek onregstreeks op die spel.
Die beskuldigde is mnr. Schabir Shaik, finansiële raadgewer en boesemvriend van adj.pres. Jacob Zuma.
Hy is iemand op wie se finansiële oordeel en kennis Zuma só blindelings vertrou dat hy Zuma se geldsake amper ten volle behartig het.
Nou staan hy tereg op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog wat met die regering se wapentransaksie verband hou, en Zuma word op bykans elk van die klagstaat se 45 bladsye genoem.
Shaik se verdediging sal na ver- wagting daarop gebou wees dat hy sedert die ANC se struggle-dae hegte vriendskapsbande met Zuma het en as 'n vriend vir hom geld gegee het.
In 'n onderhoud met die Mail & Guardian het Schabir Shaik se broer, Moe, gesê sy broer se regspan gaan ook die redes betwis waarom sommige van Schabir Shaik se voormalige kollegas nou ewe skielik teen hom gaan getuig.
Die eerste getuie is prof. Themba Sono, onderleier van die Onafhanklike Demokrate, die party waarvan me. Patricia de Lille die leier is.
Hy getuig waarskynlik Woensdag.
Vandag sal 'n sekondêre kwessie egter die kollig steel, naamlik of regter Squires 'n gesamentlike aansoek van e.tv en die SAUK gaan toestaan dat die hofverrigtinge oor televisie gebeeldsend sal word, soos verlede jaar met die Hefer-kommissie .
Die uitsaaiers voer aan dit is in die openbare belang dat uitsendings plaasvind, maar sowel die staat as die verdediging staan die aansoek teen.
Regsgeskiedenis sal gemaak word as regter Squires toestem dat dié strafregtelike verhoor regstreeks uitgesaai word.
In Durbanse regskringe word aangevoer daar is goeie rede waarom regter Vuka Tshabalala, regter-president van KwaZulu-Natal, vir regter Squires uit sy aftrede teruggeroep het om die saak te verhoor.
Regter Squires is bekend as 'n ware heer en 'n hiper-korrekte regter wat in die vorige bedeling ryklik geput het uit die rebelse aard van die destydse Natalse regbank, wat die apartheidsregering gereeld laat les opsê het.
Regter Squires se uitspraak oor die uitsending kan dus 'n aanduiding gee of hy groter klem sal plaas op die stigtelikheid van die hof of die mate van ongefiltreerde toegang wat die massamedia aan die wye publiek kan gee.
'n Titaniese stryd tussen twee gesoute senior advokate - Guido Penzhorn namens die staat en Francois van Zyl namens Shaik - lê voor in die saak wat na verwagting langer as twee maande sal duur.
Op die oomblik is die Shaik-verhoor tot 15 Desember op die hofrol geplaas, maar ingeligtes sê die kans is baie goed dat die verhoor volgende jaar ná die Desember-reses hervat kan word.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson en die Volksblad.