Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-20 Reporter: Dries Liebenberg

'Omkoop Alledaags'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-20

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - "Ek weet nie waaroor die bohaai in Suid-Afrika gaan nie; in Frankryk is dit alledaags."

Só het 'n direkteur van die Franse groep Thomson-CSF glo in 1999 gereageer op 'n koerantopskrif oor beweerde ongerymdhede met betrekking tot Suid-Afrika se wapenaankope.

Mev. Marion Marais het in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik getuig sy het verstaan haar voormalige baas, mnr. Alain Thétard, het hiermee bedoel omkopery is alledaags in Frankryk.

Thétard, 'n direkteur van Thomson-CSF (deesdae Thales), het adj.pres. Jacob Zuma saam met Shaik in Maart 2000 ontmoet waar die beweerde ooreenkoms beklink is om Zuma om te koop.

Zuma sou glo Shaik se Nkobi- groep en Thomson, wat albei betrokke is by die verskaffing van wapenstelsels vir die vloot se nuwe korvette, beskerm in die ondersoek na beweerde ongerymdhede.

Thétard het volgens getuienis die veelbesproke "gekodeerde faks" aan sy meerderes in Frankryk opgestel waarin besonderhede van die ooreenkoms met Zuma genoem word.

"Ons wil hiermee toon dat dit (omkopery) 'n aanvaarde praktyk was vir een van die partye wat in die sameswering betrokke was," het adv. Anton Steynberg namens die staat betoog.

Hy het gereageer op etlike besware van die verdediging en regter Hilary Squires oor die relevansie van getuienis dat Thétard onder meer invloedrykes wou ontmoet.

"Dit dui op die siening dat informele kontakte met invloedrykes noodsaaklik was om sake te doen," het Steynberg gesê.

Thétard het volgens Marais daarna uitgesien om Zuma met Shaik se hulp te ontmoet.

Marais het getuig kort voor een van sy gereelde reise na Durban het Thétard sy hande gevryf en gesê: "Ek hoop ek sal Zuma dié keer ontmoet."

In die jaar wat Marais as sekretaresse vir Thétard gewerk het, het hy by tye vies geraak as die Nkobi-groep geld versoek het.

"Ek het hulle al so baie geld gegee en hulle wil aanmekaar net meer hê," het Thétard glo op 'n keer gesê.

Die dag toe me. Patricia de Lille, destyds 'n PAC-LP, in September 1999 bewerings oor ongerymdhede met die wapenaankope in die parlement gemaak het, het 'n ontstelde werknemer van 'n ander Franse maatskappy by Thétard se kantoor aangekom, het Marais getuig.

Hy en Thétard het agter 'n ge slote deur gepraat, wat vir Marais ongewoon was. Sy kon aan die stemme hoor die mans is ontsteld.

Thétard het uit sy kantoor gekom en haar aangesê om uit te vind wat De Lille in die parlement gesê het. Op die vraag of sy die PAC se kantoor moet bel, het Thétard volgens Marais gesê: "Vind net uit."

Hy was duidelik gë?rriteerd toe sy daardie oggend nie iets kon uitrig nie, het Marais getuig.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.