ANC Alte Traag om Skyn van Korrupsie te Beveg |
Publication | Die Burger |
Date | 2005-02-08 |
Reporter |
Dawie |
Web Link |
Kommentaar
Vir 'n party wat so hoog opgee oor sy strewe om Afrika demokraties, deursigtig en verantwoordbaar te maak en korrupsie vastelandwyd uit te roei, is die ANC darem harmansdrup-traag om teen selfs die skyn van korrupsie in eie geledere op te tree.
Die wapenskandaal in al sy fasette was tot onlangs dalk die beste voorbeeld. Ondanks al die bewerings teen hom - wat, toegegee, nog bewys moet word - sit adj.pres. Jacob Zuma nog breed in sy pos. Tony Yengeni, gewese ANC-hoofsweep wat verlede jaar tot vier jaar gevangenisstraf weens bedrog gevonnis is, is vandeesweek deur die party vir sy "bydrae" tot die ANC en die parlement vereer.
En nou het die huidige hoofsweep, mnr. Mbulelo Goniwe, 'n striemende aanval op die Skerpioene oor hul optrede teen (oorwegend ANC-)LP's insake die reisskandaal gedoen. Die betrokke LP's wat hulle na bewering aan bedrog skuldig gemaak het, sal op 18 Februarie in die hof verskyn, en hieroor het die hoofsweep eergister op 'n nuuskonferensie by wyse van spreke skuim om die mond van woede gehad.
Hy het die Skerpioene van "kwaadwillige, vervolgingsbehepte en beplande wraakoptrede" verwyt en gesê dit is " 'n sirkus" wat doelbewus die beeld van die parlement wil afkraak en die LP's as 'n spul cowboys en boewe wil voorhou. Hy het bygevoeg dat die parlement (lees: die ANC) die departement van justisie "en sy agentskappe" (lees: die Skerpioene) gaan inroep om die ware bedoeling van die reisbedrog-ondersoek en die redes waarom dit so "sleg verbrou" is, te verduidelik.
Vir enigiemand wat die politiek goed dophou, is dit duidelik: Goniwe se uitbarsting is die jongste sarsie in 'n opbouende getygolf wat heel moontlik die Skerpioene gaan wegspoel. Die openbare mening word klaarblyklik voorberei vir 'n aanslag om die alte onafhanklike Skerpioene se angel te trek deur hulle by die aansienlik makliker beheerbare polisie te voeg.
Dit is nie die eerste keer dat so iets gebeur nie. Toe die eertydse regter Willem Heath se ondersoekeenheid die wêreld vir die ANC met sy ondersoek na die wapenskandaal begin warm maak, is sy vlerke ook geknip.
Dit begin al na 'n patroon lyk.
Die prinsipiële uitgangspunt oor korrupsie is eenvoudig: Dit is nie toelaatbaar nie.
Natuurlik moet 'n mens met menslike swakhede rekening hou; die mens is immers 'n feilbare wese. Die vraag is nie óf daar korrupsie in 'n samelewing is nie - jy kan aanvaar daar ís - maar of daar voldoende meganismes bestaan om dit hok te slaan, en of die politieke wil aanwesig is om daardie meganismes te gebruik.
Dit is een van die redes waarom die demokrasie 'n beter - of, as 'n mens wil, minder slegte - stelsel as 'n diktatuur is.
Onder 'n diktatuur word 'n digte gordyn oor alle owerheidsdade getrek, en daar is geen aansporing om teen oortreders op te tree nie. 'n Demokrasie vereis dat alles aan die felle skynwerpers van die openbaarheid onderwerp word, en dan word dit veel moeiliker om dinge soos korrupsie toe te smeer.
Afgesien daarvan dat korrupsie moreel verwerplik is, is daar ook 'n baie praktiese beswaar daarteen. Die Wêreldbank identifiseer dit byvoorbeeld as een van die belangrikste faktore wat ontwikkeling kortwiek.
Die punt is eenvoudig dat geld wat ten behoewe van die ontwikkeling van mense en die infrastruktuur gebruik kon word, in korruptes se sakke vloei wat dan hul eie buitensporige lewenstyl daarmee finansier. Korrupsie is 'n kanker wat met wortel en tak uitgeroei moet word voordat veral die Derde Wêreld hom aan sy uitsig- en hopelose moeras sal kan ontworstel.
Met ander woorde, presies die soort sake wat deur pres. Thabo Mbeki se Nepad-beleid in die vooruitsig gestel word, word deur korrupsie bedreig.
En nou kom die einste party waarvan Mbeki die leier is en hy probeer onafhanklike pogings om beweerde korrupsie in sý geledere te beveg, diskrediteer. Wat sê dit oor die ANC se werklike verbintenis tot deursigtige regering en die bestryding van korrupsie?
Indien die betrokke LP's, meestal lede van die ANC, verbrou het, moet hulle aan die kaak gestel word en aan die pen ry. Hulle is verkose verteenwoordigers van die kieserskorps, mense wat aan die kiesers gevra het om hulle te vertrou as mense wat die kiesers se belange bekwaam en eerlik kan behartig.
Moet geen fout maak nie, die saak is veel ernstiger as bloot 'n paar individue wat na bewering korrup opgetree het. Dit gaan hier ten diepste oor die behoorlike funksionering van die demokrasie - wat immers veel meer as net die meerderheidswil is - en die openbare vertroue in die stelsel.
Telkens as die ANC se verbintenis tot die demokrasie bevraagteken word, reageer die party uiters seergemaak: Maar ons het dan juis vir die demokrasie geveg! Hoe kan óns integriteit dan nou betwyfel word?
Word wakker, dames en here van die politiek. Dit is soos dit in 'n gesonde demokrasie gaan. Julle, meer as enigiemand anders, moet sigbaar skoon wees.
Met erkenning aan Dawie en Die Burger.