Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-05 Reporter: Dries Liebenberg Reporter:

'ANC Sê Nee vir Shaik se Aandele'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-05

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Mnr. Schabir Shaik het planne gehad vir ANC-aandeelhouding in sy Nkobi-groep geskoei op die Maleisiese bemagtigingsmodel, maar dié voorstel is deur die ANC van die hand gewys.

Só het adv. François van Zyl (SC), namens Shaik, in die Durbanse hooggeregshof aangevoer waar dié sakeman teregstaan op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Aanduidings dat daar in 1995 met die stigting van die Nkobi- groep die bedoeling was dat die ANC en adj.pres. Jacob Zuma aandele kry, het drie weke gelede in die verhoor aan die lig gekom.

Mnr. Johan van der Walt van KPMG het getuig oor 'n notaboek uit die Nkobi-kantore waarin die aantekenings "ANC 20%" en "JZ 2,5%" gemaak is in verband met aandeelhouding. Benoemde aandeelhouding is ook oorweeg, het Van der Walt gesê.

Dit was blote planne geskoei op die Maleisiese ekonomiese bemagtigingskonsep boemipoetera (bemagtiging van die kinders van die aarde), het Van Zyl aangevoer.

Mnr. Thomas Nkobi, tesourier-generaal van die ANC in die vroeë jare negentig, het boemipoetera as 'n nuttige model vir Suid-Afrika beskou, sal Shaik volgens Van Zyl getuig.

Shaik het tussen 1990 en 1994 nou met Nkobi saamgewerk om geld vir die ANC in Maleisië, Pakistan en die Verenigde Arabiese Emirate in te samel en het ook sy groep na hom genoem.

Shaik het voorsien dat die Nkobi-groep en sy Maleisiese sakekontakte gesamentlike projekte in Suider-Afrika sou aanpak waarin die ANC ook sou deel.

Volgens Van Zyl het die ANC sulke planne in 1995 afgekeur, maar het Shaik 'n tyd lank nog die gedagte gekoester.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.