'Bloedhond' van Shaik-Saak kry Applous |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-11-15 |
Reporter |
Adriaan Basson, Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - Die "bloedhond" van Suid-Afrikaanse ouditeurs is gister ná 16 dae in die getuiebank as staatsgetuie in die Schabir Shaik-korrupsieverhoor verskoon.
Mnr. Johan van der Walt, direkteur van forensiese oudits by KPMG, het applous gekry toe die hof hom gistermiddag kwart oor vier uiteindelik verskoon het.
Advv. Francois van Zyl en Billy Downer, regsverteenwoordigers van onderskeidelik Shaik en die staat, asook regter Hilary Squires het gister herhaaldelik beurte gemaak om Van der Walt vir oulaas uit te vra oor die talle aspekte van sy lywige forensiese ondersoek na die verhouding tussen Shaik, sy Nkobi-groep en adj.pres. Jacob Zuma.
Shaik ontken skuld op aanklagte van bedrog en dat hy Zuma omgekoop het.
Van der Walt se forensiese verslag is erg partydig vir die staat en hy is nie 'n waarlik onafhanklike kundige nie, het Van Zyl aangevoer.
Die KPMG-direkteur het dié aantyging ten sterkste ontken en gesê hy het persoonlik al die staat se dokumente deurgegaan en later inligting wat Shaik se regspan aan die lig gebring het, ook verreken.
"Enige individu wat dieselfde soort ondersoek gedoen het, sou tot dieselfde gevolgtrekking gekom het."
Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en Die Burger.