Publication: Rapport Issued: Date: 2004-10-24 Reporter: Wonder Hlongwa Reporter: Adri Kotze

Zuma Behou Bande met Shaik, al sê ANC Néé

 

Publication 

Rapport

Date 2004-10-24

Reporter

Wonder Hlongwa, Adri Kotze

Web Link

www.rapport.co.za

 

Adj.pres. Jacob Zuma, destyds voorsitter van die ANC, het al in 1995 'n vergadering bygewoon waar die ANC se leierskap hom amptelik van mnr. Schabir Shaik gedistansieer het toe dié nog besig was om sy Nkobi-groep op die been te bring. Maar Zuma het daarna glo by verskeie geleenthede namens die Nkobi-groep opgetree.

'n Woedende mnr. Makhenkesi Stofile, voormalige tesourier van die ANC en nou minister van sport, het gister gesê hy het ná dié vergadering 'n amptelike brief geskryf en die organisasie van Shaik gedistansieer. Boonop het die ANC in dié brief Shaik se aanbod verwerp om aandele in sy maatskappy te kry.

Volgens Stofile is die vergadering bygewoon deur oudpres. Nelson Mandela, toe nog president, pres. Thabo Mbeki, destyds adjunkpresident, mnr. Cyril Ramaphosa, toe nog die ANC se sekretaris-generaal, en sy adjunk, me. Cheryl Carolus.

Luidens 'n forensiese verslag wat in die Durbanse hooggeregshof in Shaik se verhoor op aanklagte van korrupsie en bedrog ingedien is, is dit egter "duidelik dat Zuma, regdeur die bestaan van die Nkobi-groep, by verskillende geleenthede en veral oor die verhouding tussen die Nkobi-groep en die Thomson-groep maatskappye, vergaderings bygewoon en die Nkobi-groep verteenwoordig het."

Voorts word in die verslag beweer Zuma het in Julie of Augustus 1995 saam met Shaik en ander individue Maleisië besoek en dat 'n ontmoeting met Maleisië se minister van verdediging deel van hul toerplanne was.

Luidens die verslag het Zuma onder meer probeer om Shaik te help in sy pogings om betrokke te raak by die ontwikkeling by Durban se Punt-gebied. Dié ontwikkeling se waarde is op R100 miljoen geraam.

Die Renong-groep het in dié projek belang gestel, maar dit het nooit op die been gekom nie -- na bewering onder meer deur Shaik se bemoeienis.

Mnr. Johan van der Walt, forensiese direkteur van die internasionale ouditeursfirma KPMG, gee in die lywige verslag ook onder meer besonderhede van die hegte bande tussen Zuma en Shaik, van Shaik se beweerde wanvoorstelling van sy Nkobigroep en hoe hy, oënskynlik sonder hul medewete, briewe namens senior ANC-lede geskryf het.

Van der Walt het as bewysstuk 'n brief ingedien wat in Stofile se naam geskryf is. Die brief, gedateer 9 Mei 1995, is aan die uitvoerende voorsitter van die Maleisiese Renong-groep gerig.

In die brief word kennis gegee van Stofile se voorgenome besoek aan Maleisië. "Ek is deur mnr. Schabir Shaik ingelig oor u maatskappy se huidige en toekomstige sakebeleggings in Suid- en SuiderAfrika en dit is in hierdie verband dat ek my daarmee vertroud wil maak," lui die skrywe.

Maar Van der Walt het benadruk dat die brief nie onderteken is nie en waarskynlik nie gestuur is nie. Dit is wel 'n voorbeeld van verskeie briewe wat glo in die Nkobi-kantore opgestel is en die formaat en lettertipe stem ooreen met dié van ander Nkobibriewe.

Stofile sê hy het nog nooit 'n brief aan die Renonggroep geskryf nie. "Dis vervals. Die waarheid is dat ek wel in 1995 as ANC-verteenwoordiger na Maleisië gereis het na hul (die regerende party Amno) se algemene konferensie."

Van der Walt het vroeër ook gewys op 'n ander soortgelyke brief. Dié brief is ook in die Skerpioene se klopjagte op die Nkobi-kantore gevind en is namens dr. Zweli Mkhize, ANC-voorsitter in KwaZulu-Natal, opgestel. Daarin word Shaik bedank vir sy bydrae van R2,261 miljoen. Dié brief is ook ongeteken.

In 'n ander brief in 1994, wat van ene "Florence" van Renong aan Shaik gestuur is, word "ANC" onder sy naam aangedui. Die suggestie is dat Shaik voorgegee het hy tree namens die ANC op.

"Daar is geen verband tussen die ANC en daardie maatskappy (Nkobi) nie en daar was nog nooit een nie.

"Hy gebruik die naam van die organisasie in sy eie belang.

"Dis waar dat hy wou gehad het dat die ANC aandeelhouers word toe hy die maatskappy begin het, maar ons het nie daarmee saamgestem nie," sê Stofile.

Foto's: s/w

Onderskrifte: Mnr. Schabir Shaik by sy beeldpoetser, mnr. Dominic Ntsele. Foto: BEELD/Alet Pretorius

Mnr. Johan van der Walt, forensiese ouditeur van KPMG, sê hy is " 'n bloedhond". Foto: MANDLA MKHIZE

Met erkenning aan Wonder Hlongwa, Adri Kotze en Rapport.