Publication: Die Burger Issued: Date: 2005-02-01 Reporter: Adriaan Basson

Shaik, Zuma Wou Glo 'n Bank Stig

 

Publication 

Die Burger

Date 2005-02-01

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Mnr. Schabir Shaik wou glo 'n ontwikkelingsbank in Suid-Afrika begin saam met sy "goeie vriend en politieke comrade", adj.pres. Jacob Zuma.

Dít blyk uit 'n brief wat hy in 1999 aan mnr. Fouad M.T. Alghanim, 'n sakeman van Koeweit, geskryf het.

Dié brief en ander opspraakwekkende dokumente is gister deur mnr. Johan du Plooy, ondersoekbeampte in die Shaik-saak en die staat se laaste getuie, aan die Durbanse hooggeregshof voorgehou.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, het voor Du Plooy se getuienis gesê hy gaan alle dokumente waarop die Skerpioene beslag gelê het, maar wat nog nie as bewysstukke ingedien is nie, aan die hof voorhou.

Onder die dokumente is dagboekinskrywings van Shaik, uitnodigings aan oorsese sakemanne en briewe waarin Shaik sy verbintenis met Zuma beskryf.

In die brief aan Alghanim skryf Shaik dat Zuma onlangs as adjunkpresident aangestel is.

"Hy het my as sy spesiale finansiële adviseur aangestel en ek is bevoorreg om saam met hierdie man - die tweede magtigste persoon in die ANC - te werk," het Shaik geskryf.

Hy nooi Alghanim voorts uit om Zuma te ontmoet as hy in Suid-Afrika is.

Luidens die brief deel Shaik en Zuma 'n "langtermyn gemeenskaplike ekonomiese doelwit - die stigting van 'n ontwikkelingsbank" en sal dit "beslis een van die besprekingsonderwerpe wees as daar 'n vergadering met hom (Zuma) is".

Onder "sakemoontlikhede" het Shaik geskryf sy broer, Moe, is die ambassadeur in Algerië en dat hy (Schabir Shaik) binnekort daarheen sou gaan om "te kyk na geleenthede soos olie, infrastruktuur, ensovoorts".

Mnr. Colin Isaacs, finansiële direkteur van Shaik se Nkobi Holdings, het in 1999 in 'n ander brief "namens Shaik" aan ene mnr. Ronald Coopersmith in Amerika geskryf oor Shaik se visie vir 'n "Nkobi Bank" met 'n oorsese vennoot.

In 'n vertroulike aangehegte dokument getiteld "Visie van 'n Nkobi Bank" het Shaik geskryf oor die behoefte aan 'n finansiële diensverskaffer in die Nkobi-groep wat deur 'n oorsese belegger besit word.

Só 'n bank sou "sonder twyfel" kon meeding vir regeringsrekeninge. As voorbeeld noem hy die KwaZulu-Natalse departement van finansies en toerisme, toe onder Zuma se leiding, waar hulle 'n "beter as gelyke kans" sou hê om deposito's te ontvang.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.