Bankfin Wou Zuma se Motor Terugvat |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-18 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - Mnr. Schabir Shaik het in 1997 twee tjeks vir R14 000 elk aan Bankfin uitgemaak toe dié instelling 'n Toyota Camry, wat glo deur adj.pres. Jacob Zuma gebruik is, weens agterstallige skuld wou terugneem.
'n Toyota-handelaar wat die motor se ratkas herstel het, maar nie vir die werk betaal is nie, het toe reeds op die voertuig beslag gelê.
Só het mnr. Anthony Lochner, voormalige streekbestuurder van Bankfin, gister in die Shaik se verhoor weens beweerde bedrog en korrupsie getuig.
Lochner het getuig die Camry is in die naam van dr. Nkosazana Zu ma, die destydse minister van gesondheid en gewese vrou van mnr. Zuma, gekoop.
Dr. Zuma het Bankfin ingelig dat mnr. Zuma die motor gebruik.
Shaik het uitgerekte onderhandelings met Bankfin oor die agterstallige skuld aangeknoop.
Shaik het uiteindelik twee tjeks vir R14 000 aan Bankfin uitgeskryf, waarvan een gedishonoreer is.
Volgens Lochner is die kwessie opgelos toe die Camry by 'n motorhandelaar in Amanzimtoti ingeruil is vir 'n Mercedes-Benz E230 van byna R244 000. Die handelaar het volgens Lochner die volle bedrag van sowat R75 000 by Bankfin afgelos, al was dit meer as die Camry se inruilwaarde.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.