Bankgroep is 'Gewaarsku oor Zuma' |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-11-20 |
Reporter |
Adriaan Basson, Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - 'n Voormalige senior Absa-werknemer het dié bank se ringkoppe gewaarsku oor adj. pres. Jacob Zuma se treurige geldsake, maar sy vermanings het glo op dowe ore geval.
As dit van hom afgehang het, het nóg Zuma nóg mnr. Schabir Shaik kliënte van Absa se private bank geword, het mnr. Ian MacLeod gister hier in die hooggeregshof getuig. Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
MacLeod, wat destyds die kredietbestuurder van Absa se private bank in Durban was, het gister gesê weens Zuma se gereelde oorskryding van sy kredietlimiete, het sy aansoek "nie eens oor die eerste hekkie gekom nie".
"Maar," het MacLeod gesê, "die besluit (om Zuma en Shaik as private kliënte te aanvaar), is by die hoofkantoor in Johannesburg geneem."
Adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, het dit aan hom gestel dat sy aanbeveling deur die Absa-base verwerp is. Volgens MacLeod, wat nou vir Nedbank werk, is dit só.
Mev. Brenda Madgwick, destydse private bankier in Durban, het eergister getuig mnr. Nallie Bosman, Absa se voormalige uitvoerende hoof, het Zuma oorspronklik genader om 'n kliënt te word. Hy was glo "invloedryk" en 'n "strategiese" kliënt vir die Absa-groep om te hê.
In 'n e-pos wat mnr. John Dwyer, voormalige hoof van die private bank in Durban, aan MacLeod gestuur het, skryf hy die verhouding van Zuma en Shaik met die bank is van 'n "sensitiewe, politieke aard".
Op 'n vraag deur Downer wat Dwyer daarmee bedoel het, het MacLeod gister gesê Absa wou meer sake met swartbemagtigingsmaatskappye doen. Die nasionale regering het glo reeds by Absa gebank en die bank wou ook sy belange op provinsiale vlak uitbrei.
"Ons het Shaik en Zuma as 'n pakket gesien. As ons die een aanvaar, vat ons albei," het MacLeod gesê. Hy het gister aan die hof verduidelik dat die Absa private bank 'n uiters eksklusiewe instelling met hoë vereistes vir toelating is.
Volgens hom moet potensiële kliënte geen groot skuld hê nie, minstens R5 miljoen kan belê en oor voldoende finansiële sekuriteit beskik.
Luidens Zuma se aansoek sou hy pensioengeld van R5 miljoen in 2004 ontvang, maar weens Zuma se swak hantering van sy geldsake, het MacLeod nie eens sover gekom om hierdie moontlike inkomste te staaf nie. Albei het hul kredietlimiete oorskry en was beskou as "vlak 4-kliënte", wat beteken hulle sou 'n hoë risiko vir Absa inhou.
MacLeod het soos Dwyer en Madgwick gesê die beweerde wentelkredietooreenkoms van R2 miljoen tussen Zuma en Shaik is nie in Shaik se aansoek aan die bank verklaar nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en Die Burger.