Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-16 Reporter: Dries Liebenberg Reporter:

'Behoed SA as jy Terugkeer na Politiek'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-16

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - "Die hemel behoed Suid-Afrika as jy amptelik hertoetree tot die politiek."

Só het 'n voormalige finansiële bestuurder van mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep, mev. Celia Bester, aan hom geskryf toe sy in Desember 1999 bedank het.

Bester het Dinsdag die eed as staatsgetuie afgelê in die saak waarin Shaik teregstaan op aanklagte van bedrog en dat hy adj.pres. Jacob Zuma omgekoop het.

Die verkeerdelike afskryf van leningsrekenings teen ontwikkelingskoste vir kaartrybewyse in die 1998/'99-boekjaar was vir Bester die druppel wat die emmer laat oorloop het.

Sy het Dinsdag getuig sy het bedank omdat sy nie dié onreëlmatige inskrywings, wat Shaik en die ouditeurs opgestel het, wou doen nie.

In haar bedankingsbrief het Bester gesê sy het by die Nkobi-groep aangesluit omdat sy in swart bemagtiging en die opheffing van agtergeblewenes glo.

"Dit het egter vir my duidelik geword dat daar niks van Thomas Nkobi se visie kom nie.

"Al wat ek tot nou toe gesien het, is die verryking van jouself en sekere ministers tot nadeel van die maatskappy en sy personeel."

Bester het Shaik in haar brief daaraan herinner dat hy 'n paar dae tevore aan haar gesê het hy wil beskou word as een van die vyf "skoon" swartbemagtigingsmaatskappye in die land. "Maar wat jy sê en doen is twee verskillende goed."

"As jy as finansiële raadgewer van die adjunkminister (Zuma) nie deursigtig is nie, moet die hemel Suid-Afrika behoed as jy amptelik hertoetree tot die politiek."

Bester het getuig Shaik, wat vroeër geld en inligting vir die ANC gesmokkel het tydens die struggle, het dikwels gesê hy oorweeg dit om weer tot die politiek toe te tree.

Sy het in haar bedankingsbrief gekla sowel Shaik as ministers aan wie hy geld betaal, ontduik belasting omdat sulke betalings verdoesel word.

"As daar meer eerlike mense in leiersposisies was... sou daar vir die meerderheid armes gesorg word pleks van 'n minderheid wat in weelde leef," lui haar bedankingsbrief verder.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.