Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-19 Reporter: Dries Liebenberg

Besluit Oor Faks Later

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-19

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Regter Hilary Squires sal later beslis of 'n handgeskrewe én getikte weergawe van die "gekodeerde faks" as bewysstukke in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik toegelaat word.

Die regsaspek waarom toelaatbaarheid van die dokument wentel, is dat mnr. Alain Thétard, 'n direkteur in die Thomson-groep, nie beskikbaar is om te getuig dat hy dit geskryf het nie en die inhoud daarvan te bevestig nie.

Adv. Billy Downer (SC), hoofaanklaer, het Dinsdag aan Squires gesê die staat sal aanvoer dié dokument is in regstaal 'n stelling dat 'n sameswering uitgevoer moet word.

Die staat gaan hom ook beroep op die Bewysregwysigingswet van 1988 ingevolge waarvan hoorsê-getuienis binne 'n sekere konteks toelaatbaar is.

Adv. François van Zyl (SC), namens Shaik, het aangedui die verdediging gaan die toelaatbaarheid van die dokumente teenstaan.

Thétard is in 'n vroeë stadium van die Skerpioene se ondersoek ondervra. Ofskoon hy ook op die lys van die staat se getuies is, bevind hy hom in Frankryk en die Suid-Afrikaanse owerhede kan hom nie dagvaar om te kom getuig nie.

Die aanklagte teen een van die Franse groep se maatskappye in Suid-Afrika is by die aanvang van Shaik se verhoor verlede week teruggetrek ná 'n ooreenkoms vroeër vanjaar met die Nasionale Vervolgingsgesag en dr. Penuell Maduna, destydse minister van justisie. Ingevolge dié ooreenkoms het Thétard in 'n beëdigde verklaring erken dat hy die outeur van die faks is.

Downer moes Dinsdag telkens aan Squires motiveer waarom hy uitgerekte getuienis deur mev. Susan Delique, die Thomson-sekretaresse wat die faks getik en gestuur het, lei oor die omstandighede toe sy by die maatskappy gewerk het. "Thales staan nie hier tereg nie," het Squires gesê.

Downer het aangevoer dis belangrik vir die staat se saak hoe al die gebeure saamhang, al is dit op die oog af nie relevant nie.

"Dit vertel die verhaal van wat sy (Delique) met die faks gedoen het en hoe dit onder die staat se aandag gekom het. Al die feite is nodig om te bepaal of die inhoud van die faks waar is," het Downer gesê.

"Ongelukkig vir die beskuldigde gaan dit ook oor wat hý gedoen het, want hy was teenwoordig by die vergadering (waar adj.pres. Jacob Zuma na bewering omgekoop is)."

Die getuienis

"Terwyl hy 'n LUR in KwaZulu-Natal was, het Zuma geen magte gehad om die wapentransaksie te beïnvloed nie." - Adv. François van Zyl, SC, namens Shaik;

"My kliënt (Shaik) sê dat jy dit deels reg en deels verkeerd verstaan het." - Van Zyl oor mev. Bianca Singh se weergawe van 'n vergadering in Mauritius;

"Kort nadat ek daar begin werk het, moes ek take verrig waarvoor ek nie opgelei was nie. Ek het gedink ek kan 'n beter posisie elders kry." - Me. Susan Delique oor haar loopbaan by Thomson-CSF (Thint);

"Hy het gesê Thomson-CSF gaan niks doen oor die berig nie." - Delique oor mnr. Jean-Paul Perrier van Thomson-CSF se reaksie op 'n City Press-berig oor die betrokkenheid van hooggeplaastes in die wapenondersoek;

"Daar was 'n lêer wat gemerk was: MEDIA." - Delique oor inligting in Thint se Pretoriase kantoor;

"Shaik het die kantoor onophoudelik gebel." - Delique;

"Al die omstandighede is belangrik om die hele storie van die faks te vertel." - Adv. Billy Downer, SC, namens die staat, oor sy deeglike ondervraging van Delique oor die Zuma-faks;

"Die aantygings in die faks was baie ernstige aantygings. Dit was my plig as persoon verantwoordelik vir die rekeningdepartement om hulle in te lig." - Delique oor waarom sy Arthur Andersen se ouditeurs van die Zuma-faks vertel het.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.