Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-06 Reporter: Dries Liebenberg

'Shaik hét Zuma Betaal'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-06

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Mnr. Schabir Shaik het adj.pres. Jacob Zuma in die tyd toe hy nog in die KwaZulu-Natalse wetgewer gedien het, effektiewelik bindgeld ('n retainer) betaal.

Só voer die staat aan in die saak waarin Shaik, Durbanse sakeman en Zuma se finansiële raadgewer, teregstaan in verband met bewerings dat die adjunkpresident omgekoop is om 'n Franse maatskappy te beskerm in die ondersoek na beweerde ongerymdhede in Suid-Afrika se wapentransaksie.

Shaik se verhoor weens beweerde korrupsie en bedrog, asook geldwassery, belastingontduiking en oortredings ingevolge die Maatskappywet, begin Maandag in die Durbanse hooggeregshof.

Die aanklagte, wat verband hou met sowat R1,34 miljoen se beweerde betalings aan Zuma tussen 1995 en 2002, wentel om Shaik se verhouding met Zuma en veral 'n beweerde ooreenkoms dat die adjunkpresident die maatskappy Thales sou beskerm en sy sakebelange sou bevorder.

Sedert die stigting van Shaik se Nkobi-groep in 1995 is 'n reeks betalings deur dié groep se maatskappye aan Zuma gedoen. In ruil daarvoor moes Zuma sy invloed vir die bevordering van private sakebelange gebruik, sê adv. Billy Downer (SC), adjunkdirekteur van openbare vervolging, in hofstukke waarin nog besonderhede oor die staat se bewerings aan die verdediging verstrek word.

Dit sluit in dat die Nkobi-groep Zuma se naam in promosiemateriaal gebruik en dat Zuma hom beskikbaar stel om selfs oorsee te reis om Shaik se voornemende sakevennote te ontmoet. Volgens Downer was Zuma se teenwoordigheid by sulke ontmoetings 'n teken dat Shaik sy steun het.

Zuma was in daardie tyd KwaZulu-Natal se LUR vir ekonomiese ontwikkeling.

Volgens die staat het Thales (destyds Thomson CSF) Zuma deur die bemiddeling van Shaik in 2000 met R500 000 per jaar omgekoop om hom in die ondersoek na die wapenskandaal te beskerm en toe komstige projekte te steun.

Thales - en Nkobi deur middel van aandeelhouding - het die kontrakte gekry om die vloot se nuwe korvette van wapenstelsels te verskaf.

Presies waarteen Thales in die ondersoek na beweerde korrupsie in die wapenaankope beskerm sou word, word nie deur die staat in die hofstukke uitgestippel nie.

"Ons sal dit tydens die verhoor motiveer," het mnr. Sipho Ngwema, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Woensdag gesê.

Ingevolge 'n ooreenkoms vroeër vanjaar tussen adv. Bulelani Ngcuka, vorige NV-direkteur, en Thales sal die aanklagte teen die maatskappy Maandag teruggetrek word.

Die NV het vroeër ook besluit om Zuma nie te vervolg nie.

Sowel Shaik as Zuma sê hulle is onskuldig.

Hoewel Zuma nie een van die 105 mense op die staat se lys van getuies is nie en dit nie bekend is of Shaik se regspan die adjunkpresident as getuie gaan roep nie, is dit wel vir die regter moontlik om Zuma as getuie te roep as hy meen dat hy meer lig op die saak kan werp.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.