Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-12-01 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Sy Wou Korrupsie Beveg, sê De Lille in Shaik-Saak

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-12-01

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Sy wou die regering help om ontslae te raak "van 'n paar slegte appels wat korrup is".

Dít, het me. Patricia de Lille gister in die Shaik-verhoor getuig, was die rede waarom sy besluit het om dokumente oor beweerde korrupsie met die regering se wapentransaksie van R30 miljard aan die Heath-eenheid te oorhandig. Mnr. Schabir Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

De Lille, OD-leier wat destyds 'n PAC-LP was, het gister getuig sy het ná 'n telefoonoproep in 1999 bewus geword van beweerde ongerymdhede met die wapentransaksie. Daarna het sy verskeie dokumente van LP's ontvang.

Die toelaatbaarheid van die dokumente, waarna die OD-leier verwys het as die "De Lille-dossier", het gister vir 'n uitgerekte woordestryd tussen adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, en adv. Billy Downer SC, namens die staat, gesorg.

Volgens Van Zyl bevat die dokumente "bespiegelings" oor mense en maatskappye wat na bewering by korrupsie met die wapentransaksie betrokke sou wees. Downer het aangevoer dit is alles deel van 'n groter verhaal van die beweerde omkopery van Zuma deur die wapenmaatskappy Thomson-CSF (Thint) wat Shaik glo gereël het.

Regter Hilary Squires het ingegryp en Downer daarop gewys dat nie Zuma óf Thomson-CSF aangekla word nie, maar Shaik.

Downer het verwys na 'n aantal aantygings in die "De Lille-dossier" wat verband hou met die aankoop van fregatte vir die regering. Shaik, sy broer Chippy wat destyds die weermag se hoofwapenaankoper was, en Zuma word genoem.

Nadat De Lille 'n kennisgewing van 'n mosie oor beweerde korrupsie met die wapentransaksie by die parlement ingedien het, het De Lille die dokumente in haar besit aan Heath se spesiale ondersoekeenheid oorhandig.

Volgens haar het dié eenheid 'n goeie rekord van suksesse en die "geregtelike bevoegdheid" gehad om die wapentransaksie te ondersoek. De Lille het nie geglo die Nasionale Vervolgingsgesag, die openbare beskermer en die ouditeur-generaal kon sulke goeie werk verrig nie.

Nadat pres. Thabo Mbeki aangekondig het die Heath-eenheid is uitgesluit van die wapenondersoek, was De Lille geskok. "Dit was beslis nie 'n besluit van die parlement nie."

Van Zyl het in kruisverhoor gesê Shaik sal getuig hy was onbewus van die dokumente in haar besit en dat hy daarin genoem word.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.