'Wie Hy Ken, Sou Sake Bevorder' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-14 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert, Dries Liebenberg |
Web Link |
Dié begrip is mnr. Schabir Shaik se bydrae tot die plaaslike politieke leksikon nadat prof. Themba Sono, OD-onderleier en voormalige uitvoerende direkteur van Nkobi Holdings, dit Donderdag bekend gestel het aan die Durbanse hooggeregshof, waar Shaik teregstaan op aanklagte van bedrog en korrupsie.
"Politieke konnektiwiteit" was wat Shaik volgens Sono aan potensiële sakevennote voorgehou het as sy maatskappye se bydrae tot 'n vennootskap in die afwesigheid van geld of tegniese vaardighede.
Een van die staat se bewerings - dat Shaik van meet af aan sou staatgemaak het op sy politieke kontakte om 'n deel van die korvetkontrak in die wapenpakket te bekom - het Donderdag 'n knou gekry.
Sono het in kruisondervraging toegegee dat Shaik nooit op 'n Nkobi-bosberaad was waar Shaik glo gesê het sy politieke verbintenisse sou opmaak vir 'n gebrek aan vaardigheid nie.
Sono het getuig dat Shaik dikwels aan moontlike vennote gesê sy maatskappy kan "welwillendheid" bydra omdat dit 'n swartbemagtigingsgroep is; hierdie die nuwe Suid-Afrika is; en hul politieke konnektiwiteit tot voordeel van die vennoot skap kan strek.
Só is 'n plofbare situasie tydens onderhandelings met Denel glo byvoorbeeld ontlont.
Sono was van 1996 tot 1997 by Shaik se Nkobi Holdings betrokke en het mense in die hof laat grinnik met sy vertellings van hoe Shaik die name van adj.pres. Jacob Zuma en oudmin. Mac Maharaj sou rondgooi om potensiële vennote te bëndruk.
Shaik het volgens Sono 'n spoggerigge selfoon gehad wat hy by die aanvang van 'n vergadering sou uitruk met iets soos: "Kyk, ek kan nie my selfoon afsit nie want Zuma kan enige tyd bel. So ek moet dit aanhou, jammer vir die ongerief."
Shaik het volgens Sono verwag om direkteur-generaal te word as Zuma adjunk-president word. Sono het glo gereageer deur vir Shaik te sê hy sou ongeskik wees vir die pos omdat hy eers om 11:00 begin werk. "Ek het nooit getwyfel aan die moontlikheid dat hy so 'n pos kan kry nie, maar wel aan sy geskiktheid daarvoor."
Op 'n vraag of Sono wou ryk word uit sy sakeverhouding met Shaik, waaruit hy eers maandeliks R5 000 en later R15 000 gekry het, het Sono gesê nie aanvanklik nie. Shaik het egter glo 'n keer gesê "ek gaan van jou 'n miljoenêr maak", waarop Sono "ja, ja, ja" geantwoord het.
Ná 'n paar maande het die verhouding tussen Shaik en Sono versleg. Die maatskappy se salaristjeks het onder meer 'n slag gehop en Sono het R75 000 van sy eie geld gebruik om personeel te betaal. Dit het hom jare gevat om dié geld terug te kry terwyl Shaik hom van Pontius na Pilatus gestuur het, het hy gesê.
Volgens Sono is hy in die duister gehou oor die bedryf van die onderneming; Shaik se rondgooi van politici se name het hom verontrus; sy navrae is ontwyk; en hulle het verskil oor die toepas van swart ekonomiese bemagtiging.
Sono sê dat hy Shaik gepols het oor die voortgesette gebrek aan vaardigheid in Nkobi. Later het hy verduidelik hy sien bemagtiging nie as die herhaling van die vorige bedeling se etniese bevoorregting van Afrikaners nie, maar as die skep van geleenthede vir massas swart mense eerder as 'n elite.
Die aanklagte
Aanklag 1: Korrupsie
Die staat beweer Shaik het tussen 1995 en 2002 R1,34 miljoen aan Zuma betaal met die doel om hom te beïnvloed om Shaik se belange of dié van sy ondernemings te bevorder.
Shaik ontken skuld en sê die betalings uit sy persoonlike bankrekening en dié van sy ondernemings het hy gedoen as Zuma se finansiële adviseur.
Die geld is glo bestee aan:
Aanklag 2: Bedrog
Die staat beweer Shaik en/of sy ondernemings het tussen 1999 en 2000 R1,28 miljoen afgeskryf wat aan Zuma betaal is.
Shaik ontken skuld.
Hy erken dat Kobifin, een van sy ondernemings en 'n mede-beskuldigde, R1,28 miljoen afgeskryf het, maar sê dat sy ouditeurs en finansiële bestuurder dit goedgekeur het.
'n Fout met die afskryf van 'n "deel" van die geld is glo reggestel.
Aanklag 3: Korrupsie
Die staat beweer Shaik het tussen 1999 en 2001 gereël dat Zuma R500 000 jaarliks aan omkoopgeld ontvang om Shaik se belange en dié van Thomson-CSF te beskerm.
Shaik ontken skuld. Hy erken daar was 'n diensverskaffer-ooreenkoms tussen Kobifin en Thomson-CSF en dat daar ooreengekom is op 'n eenmalige vergoeding van R500 000 in twee paaiemente aan Kobifin.
Thomson-CSF het na bewering net een van hierdie betalings gedoen op 16 Februarie 2001.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Dries Liebenberg, Adriaan Basson en die Beeld.