Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-24 Reporter: Adriaan Basson Reporter: Dries Liebenberg

Ouditeur Bewus van Betalings aan Zuma

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-24

Reporter

Adriaan Basson, Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Die ouditeur, wat verantwoordelik was vir die boeke van mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep, het geweet Shaik doen betalings aan adj.pres. Jacob Zuma en het "gehoor" Zuma se pensioen is aan Shaik "gesedeer".

Mnr. Ahmed Paruk, 'n vennoot van die ouditeursfirma David Strachan & Tayler, het Woensdag getuig Zuma het selfs 'n leningsrekening binne dié van Shaik by Kobifin, 'n filiaal van Nkobi Holdings, gehad.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Volgens Paruk was die betalings namens Zuma meestal vir sy kinders se skoolgeld en is dié bedrae in Shaik se leningsrekening gedebiteer. Paruk het gesê hy weet nie van terugbetalings wat Zuma aan Shaik gedoen het nie.

Hy onthou wel 'n gesprek waarin gesê is Zuma het ten gunste van Shaik afstand gedoen van sy pensioengeld.

In kruisondervraging het adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, Paruk daarop gewys dat dit onmoontlik is om pensioengeld te sedeer. "Shaik sal getuig dat hy altyd na Zuma se pensioen-kontantbetaling gekyk het om die betalings namens hom te dek," het Van Zyl gesê.

Die hof het vroeër getuienis aangehoor dat Zuma se pensioen van R5 miljoen, wat vanjaar sou uitbetaal word, as motivering gedien het vir sy toelating tot Absa se private bank.

Die grootste deel van Paruk se getuienis het verband gehou met die afskryf van R1,2 miljoen se lenings as ontwikkelingskoste vir 'n rybewyskontrak.

Die staat beweer Shaik het bedrog gepleeg deur hierdie bedrag só te verbloem, terwyl die verdediging aanvoer die besluit oor die afskrywing is deur die Nkobi-groep se ouditeurs en finansiële direkteur geneem.

Volgens Paruk was daar 'n vergadering einde November 1999 waarin Shaik aan hom en mnr. Paul Gering, sy vennoot, verduidelik het die R1,2 miljoen in sy persoonlike-leningsrekening en dié van Floryn Investments en Clegton Investments is nie skuld nie, maar uitgawes namens die Nkobi-groep.

Shaik het glo opdrag gegee dat die leningsrekenings "skoongemaak" word.

Van Zyl het Paruk Woensdag keer op keer gevra of hy seker is Shaik het gesê die "lenings" was eintlik uitgawes om kontrakte vir Nkobi te beding. Volgens Paruk was dit onder meer vir reis- en verblyfkoste.

Volgens Van Zyl sal Shaik ook getuig Nkobi se ouditeurs (Paruk en Gering) en mnr. Colin Isaacs, die groep se finansiële direkteur, het "niks verkeerd" gesien met die afskrywings nie.

Die afskrywings, wat luidens Shaik se pleitverduideliking 'n "fundamentele fout" was, is in 2002 teruggeskryf. Regter Hilary Squires het Woensdag opgemerk dit is eers gedoen nadat die Skerpioene met hul bedrogondersoek na Nkobi begin het.

Die Skerpioene moet nie toegelaat word om die Nkobi-groep met die bedrogondersoek "as gyselaar te hou" nie, het Shaik glo gesê toe die ouditeurs weens die ondersoek die 2002-state teruggehou het.

Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en die Beeld.