Die Belangrike Bewysstukke |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-08 |
Reporter |
Dries Liebenberg, Jan-Jan Joubert |
Web Link |
Een van die opspraakwekkendste bewysstukke wat tot dusver aan die lig gekom het, is 'n gekodeerde faks in Frans van mnr. Alain Thétard van die Franse verdedigingsmaatskappy Thint (voorheen Thomson-CSF) aan sy meerderes.
Volgens aanduidings is dit een van die dokumente waarop die Skerpioene in Oktober 2001 beslag gelê het tydens gelyktydige klopjagte in Durban, Mauritius en Frankryk. Daar is sterk aanduidings dat die verdediging die toelaatbaarheid van die klopjagte mag bevraagteken, maar die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) meen hul saak staan sterk.
'n Transkripsie van die gekodeerde faks wat ingesluit is by die konsep-klagstaat, maak dit duidelik dat Zuma die maatskappy sal ondersteun en beskerm en dat die maatskappy hom altesame R500 000 per jaar sal betaal sodra ADS (Thint se filiaal in Suid-Afrika) dividende begin uitbetaal.
Zuma het hom verlede jaar tot die Pretoriase hooggeregshof gewend in 'n poging om dié faks te sien te kry.
Met erkenning aan Dries Liebenberg, Jan-Jan Joubert en die Beeld.