Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-10-22 Reporter: Adriaan Basson Reporter: Dries Liebenberg

'Bloedhond' Volg Zuma

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-10-22

Reporter

Adriaan Basson, Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Adj.pres. Jacob Zuma moes geld van bronne soos mnr. Schabir Shaik en die Nkobi-groep "leen" omdat sy regeringsalaris nie genoeg was om sy lewenstyl te handhaaf nie.

Só het mnr. Johan van der Walt, die "bloedhond" van Suid-Afrikaanse ouditeurs, bevind in 'n forensiese verslag van die ouditeursfirma KPMG wat gister as bewysstuk in die Shaik-verhoor ingedien is.

Shaik, Zuma se voormalige finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Ander onthullings uit die KPMG-verslag is:

Die ANC en/of Zuma was dalk van die begin af "geheime" aandeelhouers in die Nkobi-groep wat ander mense aangewys het om vir hulle op te tree;

Die Nkobi-groep het in die boekjaar vir 1998-'99 R2,26 miljoen aan die ANC in KwaZulu-Natal geskenk wat deur mnr. Zweli Mkhize, huidige LUR vir gesondheid, ontvang is; en Zuma se finansiële situasie het nie verbeter met Shaik as sy finansiële raadgewer nie.

Van der Walt, 'n ervare forensiese ouditeur, het gister 'n nuwe aspek van die Shaik-verhoor ingelei met die indiening van die verslag van 250 bladsye en tientalle bewysstukke wat in lêers vervat is.

Regter Hilary Squires wou weet of Van der Walt 'n "finansiële speurder" is, waarop Van der Walt geantwoord het: "Voorheen het hulle gepraat van ouditeurs as waghonde, maar ek beskou myself as 'n bloedhond."

Van der Walt het begin deur te sê geen verhouding bestaan in 'n vakuum nie - ook nie Zuma en Shaik s'n nie. KPMG kon geen bewyse vind dat Shaik vir Zuma geldelik ondersteun het voor die stigting van die Nkobi-groep in 1995 nie.

Zuma se finansiële probleme het glo in 1995 begin toe die bank 'n brief aan hom gestuur het in verband met die agterstallige terugbetaling van 'n lening. 'n Algemene patroon van slegte skuld het glo gevolg en Zuma kon soms nie eens die eerste paaiement van 'n lening aan die bank terugbetaal nie.

Shaik het beheer oor Zuma se geldsake oorgeneem. "Zuma se finansiële posisie het nie verbeter in die tyd wat Shaik as sy finansiële adviseur opgetree het nie," lui die verslag.

Volgens Van der Walt kon Zuma nie sy lewenstyl bekostig nie en moes hy onder meer op Nkobi en Shaik se geld staatmaak. In die tydperk Oktober 1995 tot September 2002 het die Nkobi-groep, Shaik en filiale van Nkobi R1,2 miljoen opgedok om Zuma se skuld te delg en sy uitgawes te dek.

KPMG het verder bevind dat Zuma in dié tydperk die Nkobi-groep verteenwoordig het deur vergaderings by te woon en individue te besoek "oor kwessies van belang vir die Nkobi-groep".

Sentraal tot KPMG se ondersoek was 'n handgeskrewe uiteensetting van die Nkobi-groep voordat Nkobi Holdings in 1995 amptelik by die registrateur van maatskappye geregistreer is. 'n Presiese uiteensetting van aandeelhouding word in hierdie dokument vervat.

Bo-aan die dokument staan "ANC" en in hakies "Nominee document". Die voorletters "JZ" - Jacob Zuma, volgens KPMG - kom ook voor. Van der Walt het gesê dit dui dat dit van meet af aan die bedoeling was dat Zuma 'n aandeelhouer in die Nkobi-groep sou wees.

Adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, het gesê hy gaan teen dele van die verslag beswaar maak. Volgens hom is Van der Walt nie gekwalifiseer om hom oor sekere aspekte in die verslag uit te laat nie.

Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en Die Burger.