Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-26 Reporter: Adriaan Basson

Shaik se Verweer Kry Bloedneus

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-26

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - 'n "Diensverskaffer-ooreenkoms" tussen die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF en mnr. Schabir Shaik se Nkobi-groep, wat volgens Shaik bewys omkoopgeld is nie aan adj.pres. Jacob Zuma betaal nie, het net op papier bestaan.

Dit is die bevinding in 'n forensiese ondersoek deur die ouditeursfirma KPMG, wat in opdrag van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) Shaik se sakebelange en verhouding met Zuma, vir wie hy raad oor finansies gegee het, ondersoek het.

Shaik staan in die hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Mnr. Johan van der Walt, direkteur van KPMG, het Shaik se verweer oor die "ooreenkoms" tussen Nkobi en Thomson-CSF Dinsdag 'n bloedneus gegee met sy bevinding dat dit net 'n manier was om betalings aan Nkobi te fasiliteer.

Die staat beweer Shaik het gereël dat omkoopgeld van R1 miljoen - waarvan net R250 000 betaal is - aan Zuma betaal word in ruil vir die beskerming van Thomson-CSF en vir die bevordering van sy belange;

Shaik se verweer is dat R250 000 die eerste van vier betalings was aan Kobifin, 'n filiaal van Nkobi Holdings en beskuldigde in die saak, ingevolge 'n diensverskafferooreenkoms.

Shaik brei nie in sy pleitverduideliking uit oor die ooreenkoms nie, maar luidens 'n dokument in KPMG se besit moes Kobifin tussen 1 November 2000 en 1 Mei 2001 beleggingsgeleenthede vir Thomson-CSF identifiseer en aan 'n sakeplan werk. Luidens die KPMG-verslag, waaruit Van der Walt Dinsdag vir die vierde dag aan die hof voorgelees het, sou dit "geen sakesin" vir Shaik maak om vir ses maande só 'n ooreenkoms met Thomson-CSF aan te gaan nie.

Me. Susan Delique, 'n voormalige sekretaresse by Thomson-CSF (Thint) se Pretoria-kantoor, het verlede week getuig oor 'n "gekodeerde faks" wat mnr. Alain Thétard, destydse Suid-Afrikaanse hoof van Thint, glo aan sy kollegas in Frankryk gestuur het oor die voorwaardes vir die Zuma-betalings.

Dit is nie 'n bewys wat KPMG gebruik het ter stawing van die staat se korrupsie-aantyging teen Shaik nie.

Op die voorblad van 'n faks wat Shaik op 8 Desember 2000 aan Thomson-CSF (Thales) in Mauritius gestuur het, vra hy dat "ons ooreenkoms bespoedig word" omdat "die situasie met my kliënt uiters dringend word". Van der Walt kon "geen ander kliënte vind waarna verwys word anders as Zuma nie".

'n Faktuur wat in 'n klopjag op Thomson-CSF (Thales) se kantoor in Mauritius deur die Skerpioene gevind is, wys op 'n betaling van R250 000 aan Kobifin vir "beïnvloedingsgeld".

KPMG het ook die geldspoor van die eerste betaling van R250 000 gevolg tot waar dit in Kobitech, ook 'n filiaal van Nkobi Holdings en beskuldigde in die saak, se bankrekening inbetaal is.

Luidens die verslag blyk dit die uitstaande R750 000 van die "ooreenkoms" is nooit betaal nie en dat Nkobi geen regstappe gedoen het om hierdie geld te kry nie. KPMG kon ook geen bewyse vind van beleggings of kontrakte wat Nkobi as uitvloeisel van die "ooreenkoms" aangegaan het nie.

Van der Walt het getuig Zuma het in dieselfde tydperk as wat die "ooreenkoms" aangegaan is, erge finansiële probleme en skuld van byna R1 miljoen gehad.

Met erkening aan Adriaan Basson en die Beeld.