Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-12-06 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Zuma 'Betaal Nie' vir Blyplek

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-12-06

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Betalings vir 'n luukse Durbanse woonstel wat mnr. Schabir Shaik vir adj.pres. Jacob Zuma gehuur het, "was elke maand laat".

"Ek moes soms vir Zuma self bel om te vra dat iemand asseblief die huur moet inbetaal," het me. Tracey O'Brien gister in die Shaik-verhoor getuig.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Die staat beweer onder meer Shaik en sy maatskappye het ongeveer R1,2 miljoen se betalings aan of namens Zuma gemaak om sy invloed te "koop".

O'Brien het die woonstel oorspronklik aan Shaik onderverhuur met die gedagte dat mnr. Colin Isaacs, finansiële direkteur van Shaik se Nkobi Holdings, daarin sou bly.

In die middel van 1997 het die beheerliggaam van die woonstelgebou haar egter daarop gewys dat "een of ander VIP" in haar woonstel bly "want daar was baie lyfwagte met vuurwapens in die gebou".

Shaik het haar ingelig dat Zuma, destyds LUR vir finansies en toerisme in KwaZulu-Natal, daar ingetrek het.

"Ek het by hom (Shaik) gekla oor die laat betaling van huur en gesê Zuma bly onwettig daar. Die huurooreenkoms was nie met hom (Zuma) nie," het O'Brien getuig.

Volgens haar het Shaik die huur met tjeks van sy maatskappye betaal.

"Party daarvan het gehop."

In die middel van 1999 is O'Brien ingelig dat Nkobi Holdings nie meer die woonstel wil huur nie. Sy het ook besluit om van die meubels in die woonstel aan Shaik te verkoop "wat dit vir Zuma se huis in Zoeloeland wou hê".

Die meubels is glo later "sonder my medewete" na Zuma se huis in Empangeni vervoer. "Ek is nooit daarvoor betaal nie," het sy gister getuig.

Nadat die woonstel ontruim is, het O'Brien gaan kyk hoe dit lyk. "Ek het 'n paar van Zuma se goed soos klere, ornamente en skilderye daar gevind," het sy gesê.

Adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, het gesê Shaik het besluit dit sal beter wees as Zuma in dié woonstel gaan bly omdat die minister van intelligensie glo vir Zuma per faks ingelig het hy kan 'n aanval op sy lewe verwag.

In sy pleitverduideliking sê Shaik hy het geweet Zuma se "vorige twee huise" is afgebrand en dat hy daarom vir Zuma die woonstel beskikbaar gestel het. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het regter Hilary Squires gister gevra om 'n bevel te maak oor of mnr. Rob Reid van SAID se verklaring oor Shaik se belastingopgawes as bewysstuk ingedien moet word. Reid het dié inligting glo aan die staat verskaf sonder dat hy geweet het Shaik gaan strafregtelik vervolg word.

Volgens die staat is die privaatheidsklousules in die belastingwet vir mense wat hul geld uit onwettige bronne verdien en behoort dit nie hier 'n rol te speel nie. Die staat beweer Shaik het "valse voorleggings" aan die SAID gemaak.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.