Publication: Rapport Issued: Date: 2005-01-22 Reporter: Herman Jansen Raporter: Pieter Malan

Brian Betrek By Reuse Eis

 

Publication 

Rapport

Date 2005-01-22

Reporter

Herman Jansen, Pieter Malan

Web Link

www.news24.com

 

Die rugbybaas mnr. Brian van Rooyen is die afgelope week as sakeman ten nouste betrek by een van die grootste siviele eise in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis.

R514 miljoen word geëis nadat "ernstige ongerymdhede" na bewering aan die lig gekom het in die toekenning van 'n staatskontrak aan 'n konsortium waarin Van Rooyen se maatskappy 'n sentrale rol gespeel het.

Die nuus oor Van Rooyen se sakebedrywighede kom in 'n week waarin die rugbybaas vure doodgeslaan het oor bewerings van "etniese suiwering" in die bestuur van SA Rugby.

Hy moes ook verbete veg om die regering se steun te behou vir die Suid-Afrikaanse Rugby-unie se bod om 2011 se Wêreldbeker-toernooi in Suid-Afrika aan te bied.

Luidens hofstukke in Rapport se besit het Van Rooyen se maatskappy Labat Africa in 2002 láát - en na bewering heeltemal teenstrydig met tenderprosedures - deel geword van die konsortium Kumo Technologies (Kumo), wat getender het vir 'n kontrak van die Poskantoor, wat groot winspotensiaal ingehou het.

Van Rooyen is uitvoerende hoof van Labat Africa.

Dié kontrak vir die vestiging van 'n "biometriese stelsel" om bedrog in die uitbetaling van staatstoelaes in Noordwes te voorkom, is op 2 September 2002 toegeken aan Kumo.

Dit is 'n uiters gesofistikeerde vingerafdrukstelsel vir identifikasie.

In die reuse-eis, waarvan stukke Dinsdag aan die Suid-Afrikaanse Poskantoor beteken is, voer die beswaarmakers, mnre. Brian de Lacy en Barry Beadon, aan dat daar ernstige ongerymdhede was in die toekenning van die kontrak deur die Poskantoor.

De Lacy en Beadon verteenwoordig minderheidsaandeelhouers in die IT-maatskappy Cornastone e-Commerce Services (CES), wat sonder sukses vir die Noordwes-kontrak getender het.

Uit De Lacy en Beadon se besonderhede van die eis word aangevoer dat die Poskantoor self bekommerd was en daarom interne regsadvies ingewin het oor die struktuurverandering van Kumo ná die sluitingsdatum van die tender.

Afgesien daarvan dat Labat agterna eers lid van die konsortium geword het, is hy (Labat) later bykomend in die plek van Kumo Technologies aangedui as die "hoofkontrakteur".

Mnr. Johan Naudé van die Poskantoor se regsdienste het mev. Connie Richter, wat lid was van die beoordelingskomitee van die tender, op 9 Mei 2002 ernstig per interne e-pos gewaarsku: "Om die struktuur of samestelling van enige konsortium bykans aan die einde van die proses (of te eniger tyd ná die indiening van die voorstelle) te verander, sal ernstige nagevolge vir die Poskantoor hê.

"Dit sal bykomend onregverdig wees teenoor die ander tenderaars - wat daarteen beswaar mag maak.

"Ek stel voor dat die Poskantoor voortgaan om al die tenders te oorweeg, ook Kumo, maar Labat buite rekening laat."

Naudé het op dieselfde dag 'n afskrif van dié e-pos gestuur aan die "Project Sponsor", mnr. Andrew Topper, destyds bestuurder: pensioene van die Poskantoor, maar die regsadvies is gë?gnoreer.

Trouens, toe drie tenderaars op die kortlys hul tender-voorleggings op 18 April 2002 ingedien het, het Labat die leiersrol gespeel en Van Rooyen het die voorlegging namens die Kumo-konsortium voorgedra.

In die voorlegging het dit groot gewig gedra dat Labat in samesprekings met die IT-reus Altech betrokke was.

Dié voorgenome transaksie van Labat met Altech het egter in Junie 2002 gesneuwel.

Desondanks het Kumo drie maande later tóg die kontrak gekry - met die tenderraad nog onder die indruk dat Altech steeds betrokke was.

Dit is as voorwaarde deur die tenderraad aan Kumo gestel dat "Altech die hoof- tegnologiese vennoot moet wees".

As amptelike afgevaardigdes van CES het De Lacy en Beadon en die Poskantoor se destydse ombudsman, mnr. Bongo Rulashe, op 18 September 2002 vergader om besonderhede aangaande "sekere ongerymdhede" in die toekenning van die tender aan hom oor te dra, asook "sekere wangedrag" deur Topper.

Nadat hy die klagtes ondersoek het, het die ombudsman aanbeveel dat Topper geskors word. Die ombudsman het ook die voorste ouditeursfirma Ernst & Young se forensiese afdeling se hulp ingeroep met die ondersoek, met nadruklike klem op die tegniese aspekte daarvan.

In die "interim verslag" van Ernst & Young, wat op 19 November 2002 aan die Poskantoor oorhandig is, is die gevolgtrekking gemaak dat daar "ongerymdhede is wat onreëlmatig voorkom en waarvoor daar nie 'n bevredigende verduideliking verstrek is nie".

Rapport het sedert Vrydagaand vergeefs probeer om Van Rooyen se kommentaar te kry. Hy het teen druktyd nog nie op selfoon-boodskappe geantwoord nie.

Met erkenning aan Herman Jansen, Pieter Malan en Rapport.

Maak Oop Sesame.