Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-25 Reporter: Adriaan Basson

Brief Bevestig Chippy het Met Thint Vergader

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-25

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Mnr. Chippy Shaik, broer van mnr. Schabir Shaik en die weermag se voormalige hoof van wapenaankope, het glo op 3 Julie 1998 met 'n afvaardiging van Thomson-CSF vergader.

Ongeveer vier maande later het die kabinet 'n finale besluit oor die korvette-verskaffer geneem en op 24 November 1998 is aangekondig dat Thomson-CFS (in die vorm van ADS) die gevegsuites sou verskaf.

'n Brief, wat as deel van KPMG se verslag by die hof ingedien is, bevestig hierdie vergadering.

Mnr. Alain Thétard, die Suider-Afrikaanse hoof van Thomson-CSF (Thint), het glo die vergadering met Chippy Shaik versoek.

Op 9 Julie 1998 het ene mnr. De Bollardiere van Thomson-CSF 'n brief aan sy kollegas, mnre. Bussieres en Denis, geskryf oor sy vergadering van twee uur met Chippy Shaik.

Luidens die brief was Chippy Shaik bewus van "ons Londen-gesprekke" en het hy sonder aarseling daaroor gepraat.

"Chippy het gesê sy posisie is dat as Thomson se vennote en vriende hom pas, hy dinge makliker sal maak, en as dit hom nie pas nie, hy dinge moeilik sal maak," lui die verslag.

Luidens die brief het Chippy Shaik Thomson-CSF gewaarsku oor hul verhouding met die "tailleur" wat glo geen "politieke en/of geskiedkundige legitimiteit" het nie en wie se enigste konneksie met "N. Mandela" nie genoeg is om hul aktiwiteite in Suid-Afrika te bevorder nie.

"Hy het voorgestel dat ons moet dink aan wat oor 'n jaar gaan gebeur (ná die verkiesing) en gevra dat ons moet dink oor die swakheid van ons ondersteuning," lui die brief.

Luidens 'n nota het Chippy Shaik glo gesê dat adj.pres. Jacob Zuma (toe 'n LUR in KwaZulu-Natal) 'n lid van die toekomstige kabinet sal wees.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.