'Hallo, My Broer JZ' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-18 |
Reporter |
Adriaan Basson, Dries Liebenberg, |
Web Link |
Durban. - Mnr. Schabir Shaik het adj.pres. Jacob Zuma glo gebel en sy ingryping gevra oomblikke nadat sy benoude broer Chippy, destyds die weermag se hoof van wapenaankope, hom oor die regering se omstrede wapentransaksie gebel het.
"Moet jou nie bekommer nie," het Schabir Shaik sy broer gerus gestel en Zuma dadelik gebel, het Shaik se voormalige assistent mev. Bianca Singh Maandag in die Durbanse hooggeregshof getuig.
"Hallo, my broer, hallo, JZ. Chippy is onder druk; ons het regtig jou hulp nodig om hierdie transaksie te beklink," het Shaik glo aan Zuma gesê.
Volgens Singh het sy geweet hy verwys na die wapentransaksie omdat Chippy kort tevore gebel en Schabir die woorde "projek" of "kontrak" gebruik het oor al sy ander sakebedrywighede.
Haar getuienis het tot moedelose gesigte in die Shaik-kamp gelei omdat dit skynbaar op ongerymdhede dui in die toekenning van 'n deel van die regering se wapentransaksie aan een van Shaik se maatskappye. Daarbenewens word Zuma betrek.
Die gesprek het volgens Singh tussen Junie 1998 en Maart 1999 plaasgevind.
Tussen Mei en November 1998 het die Suid-Afrikaanse regering die aanbiedings vir sy wapenpakket oorweeg en daar is op 18 November aangekondig dat die tender van die Duitse fregatkonsortium, waarvan Thales deel is, voorkeur geniet vir die lewering van die vloot se korvette. Dieselfde dag is 'n twispunt na bewering met Zuma se hulp uit die weg geruim en dit het Shaik se Nkobi-groep toegang tot die wapenkontrak gebied.
Shaik staan tereg op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog.
Singh, 'n elegante, slanke vrou wat ná 'n vlugtige ontmoeting deur Shaik aangestel is sonder dat sy enige tersiêre kwalifikasie gehad het, is gedagvaar om teen haar voormalige werkgewer te getuig.
Sy het die hof geskud met 'n vertelling van vreemde sakepraktyke, groot name en 'n eens hegte verhouding wat suur geraak het ná 'n voorval op die eiland Mauritius. Onder strawwe kruisondervraging het sy vas gestaan by haar getuienis. Dis die eerste keer dat Chippy Shaik regstreeks betrek word. Mnr. Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, het hom in 2001 die verdedigingshoofkwartier verbied omdat hy glo inligting aan Schabir Shaik verskaf het.
Singh het voortgebou op die getuienis van prof. Themba Sono dat Shaik Zuma "en verskeie ander ministers" se name gebruik het in vergaderings met potensiële sakevennote. Op 'n keer het Shaik glo met verwysing na sy sakemetodes aan haar gesê: "Ek moet 'n botteltjie Vaseline by my dra want ek word die heeltyd deur hulle gen***. Maar dis oukei, want ek kry wat ek wil hê en hulle kry wat hulle wil hê."
Aan Shaik en Zuma se nou verbintenis het sy geen twyfel nie. Hulle het glo gereeld saam geëet, tussen Durban en Kaapstad gereis om mekaar te sien en op die telefoon gepraat - voor- en nadat Zuma adjunkpresident geword het. Die Nkobi-groep het glo betaal vir Zuma se woonstel aan die Durbanse strandfront en een dag moes sy selfs vir hom R700 kontant na die Durbanse Lughawe neem, het Singh getuig.
Haar ontnugtering met Shaik het gekom tydens 'n besoek aan die wapenmaatskappy Thales se kantore in Mauritius. Daar was na bewering 'n "insident van persoonlike aard" tussen haar en Shaik in sy hotelkamer. Singh het geen klagte teen hom ingedien nie, maar kort daarna by Nkobi bedank.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson, Dries Liebenberg en die Beeld.