Publication: Die Burger Issued: Date: 2005-03-10 Reporter: Adriaan Basson

Chikane se Brief Skud Shaik-Saak

 

Publication 

Die Burger

Date 2005-03-10

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n "Opspraakwekkende" nuwe dokument wat wys dat adj. pres. Jacob Zuma R1,5 miljoen se skuld aan mnr. Schabir Shaik in 2001 aan die parlement verklaar het, het gister sy verskyning in die Shaik-verhoor gemaak.

Dit is 'n brief deur dr. Frank Chikane, sekretaris van die kabinet, aan Zuma wat Dinsdag geskryf is.

In die brief, wat deur mense in die Shaik-kamp as 'n "bom" beskryf is, bevestig Chikane aan Zuma dat hy in 2001 R1,5 miljoen se laste aan Shaik in die vertroulike deel van die kabinet se bateregister verklaar het.

Die brief is 'n bewys dat Zuma ingegryp het om dié inligting by Chikane te kry nadat die verdediging se pogings misluk het.

"Ons het probeer, maar hy het nie na ons teruggekom nie," het Shaik gister in die Durbanse hooggeregshof getuig.

"Die enigste ander persoon wat 'n mens dus kon help, was die kabinetslid self," het adv. Francois van Zyl SC, sy regsverteenwoordiger, aan die hof gesê.

Hy het bevestig dat hulle Zuma se hulp ingeroep en die Chikane-brief van hom ontvang het.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Die staat beweer in een van die aanklagte dat Shaik Zuma se invloed "gekoop" het met R1,2 miljoen se betalings aan en namens hom.

Adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, het gesê die staat gaan die "feite" in die nuwe brief betwis.

Downer het ook aan Shaik uitgewys dat Zuma, volgens die staat se berekenings, in 2001 sowat R666 000 aan Shaik geskuld het en nié R1,5 miljoen nie.

Die kwessie oor Zuma se verklaring van sy Shaik-lenings aan die parlement spruit uit 'n "leningsooreenkoms" waarvan Van Zyl verlede jaar 'n afskrif by die hof ingedien het. Van Zyl het destyds gesê "soos ek verstaan" is die ooreenkoms deur Zuma by die parlement ingedien.

Ingevolge hierdie ooreenkoms, wat in 1999 onderteken is, leen Shaik 'n maksimum van R2 miljoen aan Zuma teen prima rentekoers plus 2% vir 'n tydperk van vyf jaar.

Chikane het vroeër in 'n brief aan die staat bevestig dat só 'n ooreenkoms nie in die kabinet se bateregister gevind kon word nie, maar dat Zuma wel laste van tussen 2001 en 2004 verklaar het.

Hierdie deel van die register is egter vertroulik en slegs kabinetslede het toegang daartoe.

Die ander opsie vir die staat was om 'n hofbevel te kry.

Shaik weier om aan die hof te wys hoeveel geld Zuma op die oomblik aan hom skuld.

Hy het gister op die laaste dag van sy kruisondervraging deur Downer gesê hy het advies ontvang om nié 'n bygewerkte skedule van sy betalings aan Zuma aan die hof te wys nie.

Downer het vroeër gevra dat Shaik dit na die hof bring nadat Shaik onthul het hy doen steeds betalings aan en namens die adjunk-president.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.