Publication: Die Burger Issued: Date: 2005-04-29 Reporter: Kommentaar

DA en Airbus

 

Publication 

Die Burger

Date

2005-04-29

Web Link

www.news24.com

 

Kommentaar

Die taak van 'n opposisieparty is weliswaar om te opponeer, maar nie tot elke prys nie. As die regerende party een ding sê, rus daar geen verpligting op die opposisie om die teenoorgestelde kwyt te raak nie.

Dié indruk wek die DA nou in sy teenkanting teen die kontrak wat die regering gister met Airbus oor die aanskaf van agt A400M-vragvliegtuie vir die lugmag onderteken het.

Dis jammer, want die vliegtuie is in die land se nasionale belang. Die DA het tereg aan die alarmklok getrek toe dit blyk dat daar suurlemoensap by die groot wapentransaksie van 1998 deurgeloop het.

Maar ook toe het die party te ver gegaan, want hy het 'n korrekte geveg teen wanbestuur en korrupsie laat oorloop in 'n geveg teen die dringend noodsaaklike modernisering van die SANW. Dis twee verskillende sake.

In dié geval het die regering 'n strategiese besluit geneem om betrokke te raak by vredesoperasies elders in Afrika. Die besluit is in Suid-Afrika se eie belang, want voortdurende bloedvergieting, onstabiliteit en armoede kan nie goed vir die streek wees nie.

Dit beteken dat die weermag die toerusting moet kry wat nodig is vir die uitvoering van sy taak. Deel daarvan is 'n strategiese lug- en maritieme vervoervermoë. Deur die aanskaf van die A400M's verkry hy daardie vermoë - uiteraard mits die huidige C-130's herstel kan word om nog die beplande verdere 15-20 jaar te hou, en mits die verouderde Dakotas ook binne afsienbare tyd vervang word.

In dieselfde asem moet 'n mens daarop wys dat ook die vloot een of twee vaartuie met 'n amfibiese landingsvermoë nodig het. Dis nou te sê as 'n mens saamstem dat Suid-Afrika nie kan nalaat om sy eie agtertuin te beveilig nie.

Die DA het hom tot dusver nie daarteen verset nie. En dus gebied die logika dat hy hom ook nie teen die aanskaf van die A400M's as sodanig moet uitspreek nie.

Met erkenning aan Die Burger.