Publication: Beeld Issued: Date: 2005-03-07 Reporter: Adriaan Basson

Zuma Getuig 'Dalk of Dalk nie'

 

Publication 

Beeld

Date

2005-03-07

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Regter Hilary Squires het Maandag geweier dat die staat mnr. Schabir Shaik in kruisverhoor dwing om te sê of adj.pres. Jacob Zuma deur Shaik se regspan as 'n getuie geroep gaan word.

"Ons kan hom roep of ons kan hom nie roep nie," is al wat Shaik wou sê voordat Squires adv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, verbied het om verdere vrae oor Zuma se moontlike getuienis aan Shaik te stel.

Squires het wel erken Zuma is die enigste ander persoon wat Shaik se verweer kan bekragtig dat korrespondensie oor "omkoopgeld" aan Zuma in werklikheid 'n onskuldige donasie aan Zuma se onderwystrust was.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Downer het Shaik Maandag oor die tweede korrupsieklag in kruisverhoor geneem.

Dit behels dat Shaik na bewering omkoopgeld van R500 000 per jaar vir Zuma gereël het in ruil vir die beskerming van die Franse wapenfirma Thomson-CSF teen 'n wapenondersoek en vir die bevordering van hul belange in Suid-Afrika.

Downer se vraag aan Shaik of die verdediging Zuma as 'n getuie gaan roep en of hy Shaik se verweer gaan bekragtig, het beroerings in die hofsaal veroorsaak.

Adv. François van Zyl, SC, Shaik se regsverteenwoordiger, het dadelik opgespring en teen Downer se vraag beswaar gemaak.

Downer het gesê dit is relevant omdat die staat in kruisverhoor sekere vrae aan Shaik moet stel as Zuma gaan getuig.

Squires het egter geweier dat Downer Shaik verder oor Zuma uitvra, waarop Shaik gesê het die adjunkpresident kan getuig - of nié.

Adv. Kessie Naidu, SC, Thomson-CSF se regsverteenwoordiger, het opgespring en langs adv. Mohamed Patel, Zuma se advokaat, gaan sit.

Kort daarna het albei die hofsaal verlaat.

Vroeër die dag wou Downer by Shaik weet of hy onthou van die vrae wat die Skerpioene aan Zuma gestel het tydens hul ondersoek na die wapentransaksie.

Shaik het gesê hy het die antwoorde dalk gelees, maar kan nie mooi onthou nie.

Downer het dit aan Shaik gestel dat Zuma nog nooit in die openbaar gesê het die korrespondensie oor beweerde omkoopgeld was eintlik oor 'n donasie vir die Jacob Zuma Education Trust nie, waarop Shaik instemmend geantwoord het.

In kruisondervraging oor die berugte Franse "omkoopfaks" het Downer gesê die enigste ander mense wat daaroor kan getuig, is mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van Thomson-CSF, en Zuma.

Thétard weier om na Suid-Afrika te kom en oor Zuma het Shaik net gelag.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.