Denel Swyg oor Hoë glo Trekpas Kry |
Publication | Beeld |
Date |
2005-04-09 |
Reporter |
Erika Gibson |
Web Link |
Hardnekkige gerugte die afgelope week wou dit hê dat Denel, Suid-Afrika se grootste wapenvervaardiger, sy senior uitvoerende bestuurder, mnr. Victor Moche, in die pad kan steek.
Moche is glo nie die enigste nie en minstens nog een senior bestuurder gaan moontlik ook uit sy pos verwyder word.
Mnr. Sam Basch, woordvoerder van Denel, kon gister dié bewerings nie bevestig of ontken nie.
Mnr. Sandile Zungu, voorsitter van Denel se direksie, het gesê daar steek geen waarheid in nie.
Na verneem word, sal daar meer duidelikheid oor Moche se toekomsplanne wees wanneer die direksie Dinsdag vergader.
Die gerugte kom nadat Moche onlangs erken het dat Denel se finansiële posisie nié gesond is nie. Redes wat daarvoor aangevoer word, is onder meer die negatiewe uitwerking van die rand/dollar-wisselkoers op wapenuitvoer.
Na verneem word, kan Denel se verliese vir die afgelope boekjaar meer as R700 miljoen beloop nadat dit die vorige jaar sowat R370 miljoen en die jaar vantevore sowat R70 miljoen was - net voordat Moche as senior uitvoerende bestuurder aangestel is.
Dié verliese is glo bydraend tot die groeiende ongelukkigheid oor Moche se invloed op die vervaardiger se prestasie. Basch het gesê dit is "betekenisloos" om nou oor die finansiële resultate te bespiegel, aangesien dit nog nie bekend gemaak is nie.
Sou Moche wel uit sy pos verwyder word, sal dit 'n ironiese uiteinde wees aangesien dit 'n ope geheim is dat hy 'n aandeel gehad het in die onlangse skorsing van mnr. Sipho Thomo, senior uitvoerende bestuurder van Krygkor, sowel as twee senior bestuurders.
Húlle is glo geskors weens bewerings van administratiewe onreëlmatighede wat deur 'n forensiese span ondersoek word.
Dit is glo "toevallig" dat die ondersoek gehanteer word deur dieselfde span wat die afgelope twee jaar ondersoeke na bykans 50 van Denel se senior bestuurders en amptenare behartig het.
Van dié amptenare se vervolging het al bykans twee jaar gelede begin, maar is nog nie afgehandel nie. Dit kos Denel glo al meer as R12 miljoen om dié mense te vervolg. Etlike van hulle, wat aanvanklik tydens interne verhore skuldig bevind is, is later deur die Raad vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) óf onskuldig bevind óf het met Denel geskik.
Basch het ontken dat daar enige verband tussen die skorsings by Krygkor en Denel is.
Met erkenning aan Erika Gibson en die Beeld.