Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-18 Reporter: Dries Liebenberg

Sekretaresse Kry Glo al in 1996 Korvet-Diagramme

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-18

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Sy is oortuig daarvan dat daar al in 1996 diagramme van 'n korvet in mnr. Schabir Shaik se kantoor was, het dié sakeman se voormalige sekretaresse Maandag getuig.

Shaik en sy Nkobi-groep het na bewering adj.pres. Jacob Zuma omgekoop om 'n Franse sakegroep te beskerm in die ondersoek na beweerde ongerymdhede met Suid-Afrika se wapenaankope.

Die Franse Thales-groep (destyds Thomson CSF) en Nkobi is betrokke by die R450 miljoen-kontrak om wapenstelsels vir die nuwe korvette te voorsien.

Kort nadat sy in 1996 by Nkobi begin werk het, het sy in 'n kas in Shaik se kantoor op 'n diagram van 'n skip afgekom terwyl sy dokumente geliasseer het, het mev. Bianca Singh Maandag in die Durbanse hooggeregshof getuig.

Shaik het haar eers nie geantwoord toe sy gevra het wat die diagram is nie, het Singh gesê.

Toe sy later weer vra, het Shaik gesê dis 'n projek waaraan hy werk.

Die staat beweer Shaik was in dié tyd al van plan om deel te wees van die kontrak vir die lewering van die vloot se nuwe korvette of dan minstens deel van die subkontrak van R450 miljoen vir die skepe se wapenstelsels.

In 1996 al was dit volgens die staat duidelik dat die hedendaagse African Defence Systems (ADS) die subkontrak vir die wapenstelsels sou kry. ADS is die voorste Suid-Afrikaanse maatskappy op die gebied van skeepselektronika.

Thomson het later die beherende aandeel in ADS gekoop en ná die beweerde bemiddeling van Zuma ook onregstreeks vir Nkobi aandeelhouding in ADS gegee, voer die staat aan.

Suid-Afrika het in 1997 eers inligting van moontlike wapenverskaffers aangevra as deel van die verkrygingsproses.

Prof. Themba Sono, voormalige uitvoerende direkteur van Nkobi Holdings, het vroeër getuig Shaik het al in 1996 gesê die Nkobi-groep sal deur teenhandelsooreenkomste uit die wapenaankope kan voordeel trek.

Adv. François van Zyl, vir Shaik, het Singh in kruisondervraging gevra of sy sal kan onderskei tussen diagramme van 'n vissersboot, patrollieboot en korvet omdat daar niks op die diagram geskryf was nie. Hy het aangevoer die enigste diagramme wat in daardie tyd beskikbaar was, was dié van planne vir groot patrollievaartuie vir die departement van omgewingsake.

Singh het geantwoord Shaik het vir haar gesê dis 'n projek waaraan hy werk.

"Waarom het jy dit nie vroeër genoem nie?" was Van Zyl se reaksie.

"Sy is nie vroeër daarna gevra nie," het regter Hilary Squires tussenbeide getree.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.