Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-10-15 Reporter: Adriaan Basson

Hof Deur Korporatiewe Doolhof na Shaik Gelei

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-10-15

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - As die staat reg is, het mnr. Schabir Shaik sedert 1994 sy sakebelange soos die web van 'n flukse én honger spinnekop uitgebou.

As hoofaandeelhouer in Nkobi Holdings, genoem na die afgestorwe ANC-tesourier mnr. Thomas Titus Nkobi, strek Shaik se invloed wyd en hy maak geld in elke denkbare sektor - veral waar staatstenders ter sprake is.

Met 'n powerpoint-aanbieding het adv. Billy Downer SC Woensdag namens die staat in die Durbanse hooggeregshof gewys hoe Shaik - met adj.pres. Jacob Zuma se ondersteuning - by die regering se omstrede wapenkontrak betrokke geraak het.

Dit hou verband met aanklag 3 op Shaik se klagstaat: Dat hy omkoopgeld van R500 000 per jaar vir Zuma gereël het in ruil daarvoor dat Zuma 'n ondersoek na die wapenkontrak sou keer.

Shaik ontken skuld op al die aanklagte.

Die Skerpioene het die laaste paar jaar 'n groot ondersoek na die wapenkontrak en ander verdagte sakekontrakte in veral KwaZulu-Natal gedoen.

'n Papierspoor, bestrooi met geld, het hulle uiteindelik voor die deur van Shaik gebring.

By baie van die betrokke ondernemings (daar is 11 beskuldigdes in die verhoor, waarvan tien Shaik se maatskappye is) is Shaik se aandeelhouding verskans deur ander betrokkenes of maatskappye, het Downer gewys.

Shaik is die enigste aandeelhouer in drie ondernemings: Clegton Investments, Floryn Investments en Star Corporation SA.

Verder besit hy 95% van Chartley Investments se aandele en 25% van dié van Clanwest Investments.

Nkobi Holdings word deur Star Corporation SA (60%), Clanwest Investments (20%), Floryn Investments (10%) en Workers College (10%) besit.

Shaik het dus as enigste aandeelhouer in Star Corporation SA en Floryn Investments minstens 'n 70%-aandeel in Nkobi Holdings.

Uit Nkobi Holdings het Nkobi Investments ontstaan. Laasgenoemde is die enigste aandeelhouer in tien ondernemings, waaronder vyf van die beskuldigdes.

Die staat voer aan dat geld uit die rekenings van tien van Shaik se ondernemings aan Zuma oorbetaal is. Van dié geld het hy na bewering gebruik om sy Nkandla-ontwikkeling in die noorde van KwaZulu-Natal te finansier.

Shaik se betrokkenheid by die wapenkontrak het begin toe Nkobi Investments 25% van die aandele in Thint, die Suid-Afrikaanse afdeling van die Franse wapenmaatskappy, Thomson CSF, verkry het.

Op sy beurt besit Thint 80% van African Defence Systems (ADS), aan wie die kontrak toegeken is om 'n onderdeel vir die nuwe fregatte van die Suid-Afrikaanse vloot te verskaf. ADS se ander aandeelhouer is FBS Holdings (20%), 'n swartbemagtingingsmaatskappy.

As die staat reg is, het Shaik en sy ondernemings - via ADS - via Nkobi Investments - via Nkobi Holdings - finansiële voordeel uit die wapenkontrak gekry.

Downer het ook vlugtig genoem dat Floryn Investments, wat deur Shaik besit word en 10% aandele in Nkobi Holdings het, moontlik gebruik is om geld na die ANC te kanaliseer.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.