Publication: Volksblad Issued: Date: 2004-10-11 Reporter: Gert Coetzee

Eenheid Nou Belangrikste vir ANC

 

Publication 

Volksblad

Date 2004-10-11

Reporter

Gert Coetzee

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad - Die relevante voorkeursaak nóú in die ANC ter sprake , is "die verskansing van party-eenheid en van samehorigheid" en nie watter individue moontlike opvolgers as staatspresident of ANC-president kan wees nie.

Só het mnr. Smuts Ngonyama, ANC-woordvoerder, gister by navraag gesê oor die uitspraak van mnr. Sbu Ndebele, premier van KwaZulu-Natal, dat pres. Thabo Mbeki in 2007 vir 'n derde agtereenvolgende termyn as ANC-president aangewys moet word.

Volgens Ngonyama is dit wel só dat die ANC-grondwet anders is as die land se Grondwet wat dit verhinder dat die staatspresident langer as twee agtereenvolgende termyne dien.

"KwaZulu-Natal se premier is reg dat ingevolge die ANC-grondwet iemand dus wel drie agtereenvolgende termyne ANC-president kan wees. Maar daar is nog nie naastenby enigiets hieroor beslis nie.

"Dit is gans te vroeg. Die president se termyn is ver van verstreke. Die ANC bemoei hom nog glad nie hiermee nie.

"Ons versoek is dat mense en die media hulle moet weerhou daarvan om hieroor te debatteer. Ongelukkig stook die media gissinge oor die presidentskap aan."

Ngonyama het gesê dit staan enkelinge wel vry om uitsprake hieroor te doen. Ook skort niks met die Gautengse ANC se voorstel oor 'n gesprek oor die nasionale presidentskap nie omdat dit in "die konteks van party-eenheid en samehorigheid" geskied het.

Luidens gister se Sunday Times, het Ndebele die Gautengse ANC gekap oor sy gespreksversoek. Hy het gesê die Gautengse ANC verwar die ANC se grondwet en die land s'n.

Luidens die koerant het hy gesê die ANC het dié saak reeds op sy nasionale konferensie in 1997 opgelos toe gesê is dat 'n provinsiale ANC- voorsitter of die nasionale ANC-president nie noodwendig premier of president van die land gaan word nie. Voorts sal die ANC steeds Mbeki se "vaardighede, wysheid en visie" ná sy presidentskap nodig hê.

" Daar is geen politieke of grondwetlike rede om dit prys te gee nie. Dit is ondenkbaar dat ons ná 2007 se nasionale konferensie 'n ander (ANC-)president gaan hê as wat ons nou het," het Ndebele gesê.

Volgens hom gaan opvolgerskap vir Mbeki ook nie op die ANC se nasionale algemene raadsitting in 2005, die grootste tussentydse byeenkoms , bespreek word nie.

Met erkenning aan Gert Coetzee en die Volksblad.