Eindstryd Verby in Shaik-Verhoor |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-16 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
In-Diepte
As kruisverhoor 'n rugbywedstryd was, het regter Hilary Squires, die regspanne van mnr. Schabir Shaik en die staat, 'n handvol vasbyter-joernaliste en nuuskierige Durbaniete die afgelope week of wat die Curriebeker-eindstryd gesien.
Maar anders as vanjaar se eindstryd (met apologie aan die Vrystaat), was die gebeure in die Durbanse hooggeregshof nie 'n voorspelbare affêre nie.
Dit is bestempel as "die stryd van die breine". Of "Van vs. Van", soos 'n kollega dit beskryf het.
Die veteraan-advokaat met die sagte stem en die silwer tas vol vrae teen die onwrikbare, ordentlike ouditeur met die modieuse dasse.
Adv. François van Zyl, SC, en mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, is albei swaargewigte in hul onderskeie beroepe: Van Zyl, die juris, en Van der Walt, die forensiese ouditeur.
Nie een was bereid om 'n duit af te wyk van wat hulle glo die waarheid is nie.
Van der Walt, wat homself as 'n "bloedhond" beskou, moes Shaik se sakebelange en sy verhouding met adj.pres. Jacob Zuma ondersoek, terwyl Van Zyl die man is wat Shaik se onskuld teen die staat se beskuldigings van korrupsie en bedrog verdedig.
Van der Walt, wat 16 dae lank in die getuiebank was oor sy verslag van 250 bladsye, is 'n 40-jarige forensiese ouditeur wat ná diensplig in die polisie hom op handelsmisdaad toegespits het.
Hy het soggens vriendelik vir die fotograwe gelag en tydens teepouses grappies met sy kollegas en selfs die Shaik-span gemaak.
Van Zyl, 'n voormalige prokureur-generaal van Transkei, is 'n über gentleman. Hy is die hoflikheid self en groet gemoedelik as hy vroegoggend deur Shaik se span lyfwagte met 'n groot, swart BMW 7-reeks voor die hof afgelaai word.
Soms klim Van Zyl reeds by die onderste ingang na die hof uit en dra self sy silwer tas en wynrooi sak met "FvZ" daarop geborduur tot bo.
Aan die begin van elke oggend se kruisverhoor, nadat Squires en sy assesore hul koppe instemmend geknik het, het die woordestryd begin met Van Zyl se "Good morning, Mr Van der Walt", waarop Van der Walt teruggegroet het.
En dan was dit gewoonlik oorlog.
Gepantser met feitlike verwysings, nuwe bewysstukke en 'n verrassingsdokument of twee het Van Zyl probeer om Van der Walt se verslag - sleutel - getuienis in die saak - verdag te maak.
Hy wou ook wys dat Van der Walt nie bevoeg is om hom oor sekere aspekte uit te laat nie. Reeds op dag een van kruisondervraging wou Van Zyl weet wat Van der Walt se kennis is oor die begin van 'n maatskappy.
Van der Walt se antwoord hierop was koel en kalm: In sy ervaring as geoktrooieerde rekenmeester het hy al in die verlede baie raad gegee oor die begin van maatskappye.
As ondersoeker moes hy al baie strukture en modelle bekyk en hy was glad nie "ongemaklik" om Shaik se Nkobi-groep te ondersoek nie.
Oor "tegniese kwessies" soos die Nkobi-groep se beweerde fiktiewe bates en ontwikkelingskoste het Van der Walt KPMG se "tegniese raadgewers" geraadpleeg.
"Omdat jy, as forensiese geoktrooieerde rekenmeester, nie die nodige vaardighede het nie?" wou Van Zyl weet.
"Dit is nie reg nie, u edele," het Van der Walt kalm gesê en omvattend verduidelik dat KPMG se internasionale regulasies sulke konsultasies met tegniese raadgewers vereis.
Aan die einde van die marathon-kruisverhoor, wat gereeld afgewissel is met 'n paar kwinkslae (Van Zyl: "Wanneer het die ouditeursprogram King 2 uitgekom?" Van der Walt: "Ná King 1, u edele"), het die gentleman die bloedhond losgelaat.
Die eindstryd is verby. Nou kan die wedstryd begin...
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.