Dik Forensiese Ouditverslag |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-10-22 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - Amper 280 bladsye en 20 boogkniplęers vol dokumente. Dít is hoe lywig die forensiese verslag is wat gister in die korrupsieverhoor van mnr. Schabir Shaik in die hooggeregshof hier ingedien is.
Die ruimte wat dit in beslag neem, het regter Hilary Squires teenoor adv. Billy Downer SC, hoofaanklaer, laat opmerk om tog nie te veel bykomende dokumente daaroor in te dien nie, "want ons het net soveel spasie hier bo op die regbank".
Die lessenaars wat die staat se regspan in die hofsaal gebruik, is omring met rye bokse met afskortings, waarin die 22 boogkniplęers netjies staangemaak is.
Dié verslag is die werk van mnr. Johan van der Walt, direkteur van die internasionale ouditeursfirma KPMG se afdeling vir forensiese oudit. Hy was ook as forensiese ouditeur by die bedrogverhoor van dr. Allan Boesak in 1998 betrokke.
Dít was nadat hy in die vroeë jare negentig as geoktrooieerde rekenmeester by die ondersoekdirektoraat vir ernstige ekonomiese misdrywe gewerk het.
KPMG is einde verlede jaar deur die nasionale vervolgingsgesag (NV) genader om 'n forensiese ondersoek te doen van beweerde betalings deur Shaik of sy maatskappye aan adj.pres. Jacob Zuma of sy afhanklikes.
"Daar word gewoonlik na ouditeure as waghonde verwys. Ek sal eerder na myself as 'n bloedhond verwys," het Van der Walt gister getuig.
KPMG moes ondersoek instel na die onderskeie mense en instansies wat betrek word, asook die sake wat hulle gedoen het, hul finansiële posisie, betalings wat gedoen is en wat die onderliggende redes daarvoor was.
Van der Walt en sy KPMG-span het ook ondersoek ingestel of Zuma enige belang by dié sakeprojekte gehad het en of hy sy mag met betrekking daartoe uitgeoefen het.
Tenderprosedures is daar om 'n gelyke speelveld vir alle betrokke firmas te verseker, het hy gesę. Baie tenderaars is volgens hom ook agter die skerms doenig.
"Mense dink rekenkunde gaan oor debiete en krediete. Agter daardie transaksies is daar ondersteunende gebeure, gesprekke en dokumente wat die motiewe vir betalings blootlę," het Van der Walt gesę.
Hy en sy span het sowat 'n maand gelede 'n forensiese verslag van 259 bladsye vir die NV saamgestel, wat verder toegelig word deur 'n addendum van 20 bladsye gegrond op inligting wat later beskikbaar geword het. Van der Walt se ontledings bestaan uit twee boogkniplęers.
Die grondslag van die verslag en ontledings is die 20 lęers vol dokumente - wat KPMG uitgesoek het uit al dié wat die Skerpioene in die loop van hul ondersoek gekry het.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en Die Burger.