Franse Leen Nkobi Miljoene vir Aandele |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-25 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - Die Franse Thomson-CSF-groep het R7,4 miljoen aan die "tegnies insolvente" Nkobi-groep van mnr. Schabir Shaik geleen sodat hy in 'n aandele-skommeling ook toegang tot Africa Defence Systems (ADS) kon kry.
ADS was die voertuig waardeur Thomson en Nkobi via die verskaffing van wapenstelsels aan die vloot se nuwe korvette toegang tot die wapenpakket gekry het.
Shaik staan onder meer tereg op korrupsieklagte wat verband hou met die beweerde omkoop van adj.pres. Jacob Zuma ten tyde van die ondersoek na vermeende ongerymdhede met die wapenaankope.
Die aandeleskommeling het volgens mnr. Johan van der Walt van KMPG gekom nadat 'n geskil oor die betrokkenheid van swartbemagtigingsmaatskappye in ADS op "hoë politieke vlak" geskik is.
Die Nkobi-groep was reeds in 1996 met Thomson in gesprek oor samewerking met 'n Suid-Afrikaanse verdedigingsmaatskappy met die oog op die wapenaankope.
Die keuse het uiteindelik op Altech (later ADS) geval.
Shaik was in Junie 1998 ontevrede toe hy hoor dat Thomson-CSF (Frankryk) pleks van die Suid-Afrikaanse filiaal, waarin Nkobi aandele gehad het, die Altech-aandele gekoop het.
Terselfdertyd het die Thomson-groep, wat onseker was oor geskikte swartbemagtigingsvennote in ADS, toenadering gesoek tot Futuristic Business Solutions (FBS) van mnr. Tsepo Moloi. Moloi, 'n voormalige lid van die ANC se gewapende vleuel, Umkhonto we Sizwe, was goed bevriend met mnr. Chippy Shaik, die beskuldigde se broer en destydse hoof van die weermag se wapenaankope.
Thomson was glo in gesprek met oudpres. Nelson Mandela en pres. Thabo Mbeki, onderskeidelik die destydse president en adjunkpresident, asook mnr. Jacob Zuma, senior ANC-lid en LUR in KwaZulu-Natal.
Volgens Van der Walt is die ADS-aandeelhouding eindelik só geskommel dat FBS en Nkobi elk 25% gehad het en Thomson die orige 50%.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.