Shaik-verhoor : Franse Sakeman wil nie Getuig |
Publication | Die Burger |
Date |
2005-01-31 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Die staat was bereid om 'n uitstaande lasbrief op te skort vir die derde persoon wat na bewering saamgesweer het om adj.pres. Jacob Zuma om te koop as hy teen mnr. Schabir Shaik sou getuig.
Mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF, het egter dié aanbod van die hand gewys.
Só het adv. Gerda Ferreira, voormalige ondersoekbeampte van die Skerpioene wat die regering se omstrede wapentransaksie bekyk het, gister in die Durbanse hooggeregshof getuig.
Ferreira, een van die staat se laaste getuies in die korrupsie- en bedrogverhoor van mnr. Schabir Shaik, was nou betrokke by die ondersoek teen Shaik.
Sy moes onder meer toestemming van die Franse regering kry om Thomson-CSF se kantore te deursoek en beslag te lê op dokumente wat met die wapentransaksie verband hou.
Ferreira het gister getuig hoe sy afgekom het op dokumente wat daarop dui dat Shaik, Zuma en Thétard op 11 Maart 2000 in Durban vergader het.
Die staat beweer 'n omkoopooreenkoms, waarluidens Zuma R500 000 per jaar sou ontvang in ruil vir die beskerming van Thomson-CSF teen 'n wapenondersoek en die bevordering van dié maatskappy se belange in Suid-Afrika, is op dié vergadering bespreek.
Adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, het vroeër gesê Shaik sal getuig daar was 'n vergadering op 12 Maart 2000 in Durban, maar ontken die omkopery van Zuma is ooit bespreek.
Nadat die Skerpioene met hul ondersoek na die wapentransaksie begin het, het Thétard, 'n Fransman, na sy tuisland teruggekeer.
Op 25 Junie 2003 het hy in 'n brief aan mnr. Jean-Paul Perrier, 'n senior Thomson-amptenaar, geskryf hy het "in die eerste kwartaal van 2000" vir Zuma by sy "amptelike woning" in Durban ontmoet.
Volgens Thétard het Shaik vir Zuma vergesel.
Luidens die brief was die doel van die vergadering om Thomson-CSF se "Durban verteenwoordiging" te bevestig en oor "algemene kwessies" te praat.
"Ek bevestig dat ek in geen stadium gedurende my verblyf in Suid-Afrika 'n versoek van enige hooggeplaaste staatsman ontvang het nie," het Thétard geskryf.
Volgens Ferreira wou die Skerpioene met Thétard praat om inligting oor die Maart-vergadering te kry. "Die lasbrief vir sy inhegtenisneming was egter 'n probleem."
Indien Thétard na Suid-Afrika sou kom, sou hy op aanklagte van korrupsie en regsverydeling in hegtenis geneem word. Die korrupsie hou verband met die beweerde omkopery van Zuma en die regsverydeling met 'n "valse verklaring" wat Thétard in Suid-Afrika aan die Skerpioene gedoen het.
Daar is toe 'n aanbod aan Thétard gedoen om sy lasbrief op te skort as hy na Suid-Afrika kom om teen Shaik te getuig. "Sy prokureur het laat weet hulle aanvaar nie die aanbod nie en Thétard is nie bereid om te getuig nie," het Ferreira gesê.
Thétard het verlede jaar in 'n beedigde verklaring erken hy was die outeur van die berugte Franse faks, maar gesê dit was 'n opgefrommelde nota in sy asblik wat hy nooit laat tik het nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.