Shaik Onthul 'n Fransman sal Gou Getuig |
Publication | Beeld |
Date |
2005-03-08 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - 'n Franse amptenaar van die omstrede wapenfirma Thomson-CSF (Thales) kan reeds Vrydag vir die verdediging getuig in die staat se saak teen mnr. Schabir Shaik.
Shaik het Dinsdag in kruisverhoor die sluier halfpad gelig oor bespiegelings oor of 'n Thales-amptenaar in sy verhoor gaan getuig.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële raadgewer, staan in die hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Hy het Maandag geweier om aan adv. Billy Downer, SC, hoofaanklaer, te sê wie die verdediging se getuies gaan wees en of Zuma onder hulle is.
Dinsdag het hy in kruisondervraging oor 'n "diensverskafferooreenkoms" tussen sy Nkobi-groep en Thales toegegee dat 'n Fransman vir hom sal getuig.
Downer het dit aan Shaik gestel dat die ooreenkoms 'n bedrogspul is om omkoopgeld van R250 000 aan Zuma te verbloem.
Volgens Downer is dié dokument bloot vir oudit-doeleindes geskep, waarop Shaik gesê het hy kan nie namens Thales praat nie, maar "een van ons getuies" sal Downer dalk kan help.
"Wie is dit?" wou Downer weet. Shaik het geweier om te sê en het die hof ingelig dat adv. François van Zyl, SC, sy regsverteenwoordiger, die staat later oor die getuie se identiteit sal inlig.
Daar is Dinsdag druk in die hof bespiegel wie die Thales-amptenaar kan wees.
Mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van Thomson-CSF (Thint), is reeds deur die staat én Shaik versoek om te getuig, maar hy weier om na Suid-Afrika te kom.
Ander name wat genoem word is dié van mnre. Jean-Paul Perrier, uitvoerende hoof van Thales International, en Yann de Jomaron, hoof van Thales se operasies in Afrika wat in Mauritius gebaseer is.
Volgens mnr. Reeves Parsee, Shaik se prokureur, kan die Thales-getuie reeds so vroeg as Vrydag of Maandag getuig.
Die berugte gekodeerde Franse "omkoopfaks" - die staat se belangrikste dokument om te bewys Shaik het gereël dat Zuma deur Thales omgekoop word - is glo deur Thétard aan Perrier en De Jomaron gestuur.
Shaik het Dinsdag voet by stuk gehou dat die "diensverskafferooreenkoms" werklik bestaan het en beëindig is weens probleme met die departement van handel en nywerheid se teenhandel-beleid.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.