'Gefrustreerde' Vrou 'Weet Min van Nkobi' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-17 |
Reporter |
Adriaan Basson, Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - 'n "Gefrustreerde" voormalige werknemer van mnr. Schabir Shaik het glo bitter min geweet van sy Nkobi-groep se doen en late en is haar interpretasie van lenings wat afgeskryf is, is verkeerd.
Só het adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, Woensdag in die Durbanse hooggeregshof aangevoer ná sy kruisondervraging van mev. Celia Bester, 'n voormalige rekenmeester van Nkobi.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Bester het Woensdag getuig dat Shaik "baie goed daarmee is om oor iets te praat asof hy alles weet". Sy het dit ook beklemtoon dat hy boekhouding verstaan en die groep se finansiële state, waarin daar glo onreëlmatighede voorkom, onderteken het.
Die staat beweer Shaik is skuldig aan bedrog omdat hy R1,2 miljoen as "ontwikkelingskoste" afgeskryf het teen 'n fiktiewe bate.
Hierdie is glo bindgeld wat Shaik aan adj.pres. Jacob Zuma betaal het om sy invloed te "koop".
Bester het dit Woensdag ten sterkste ontken dat sy bewus was van die afskrywings en gesê dié besluit moes deur Shaik en die groep se ouditeure in 'n vergadering geneem gewees het.
Sy het gesê die geld wat die Nkobi-groep aan Zuma en "ander ministers" betaal het, was na haar mening omkoopgeld.
Die "ontwikkelingskoste" wat afgeskryf is, was "alles betalings ten bate van Zuma" terwyl Nkobi "kontrakte gekry het deur Shaik se politieke kontakte".
"Waarom is ministers betaal terwyl die maatskappy met 'n oortrokke fasiliteit om sy oorlewing geveg het? Was dit om die ministers gelukkig te hou?" het Bester gevra.
Van Zyl het teruggekap deur te sê sy maak 'n afleiding dat die betalings omkoopgeld was bloot omdat 'n fout begaan is met die afskryf van ontwikkelingskoste en omdat Zuma se naam in Shaik se leningsrekening opduik.
Met erkenning aan Adriaan Basson, Dries Liebenberg en die Beeld.