Publication: Die Burger Issued: Date: 2004-10-18 Reporter: JanJan Joubert Reporter: Adriaan Basson

Geheime Getuie Dalk die Troefkaart

 

Publication 

Die Burger

Date 2004-10-18

Reporter

Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n Geheime getuie sal na verwagting vandeesweek een van die staat se troefkaarte wees in die opspraakwekkende verhoor van mnr. Schabir Shaik, wat in die hooggeregshof hier teregstaan op twee aanklagte van korrupsie en een van bedrog.

"As jy gedink het die afgelope week se onthullings was interessant, moet jy kyk wat kom," het 'n ingeligte na aan die staat se regspan Vrydag verklap.

Verskeie getuies se name is nie op die getuielys nie uit vrees vir intimidasie, is betroubaar verneem.

Daar is verlede week gegis dat 'n sekretaresse - óf die van Shaik óf van mnr. Alain Thétard van die wapenmaatskappy Thint - vandag teen Shaik, 'n Durbanse sakeman, sal getuig.

Die staat probeer onder meer aantoon dat Shaik, vroeër adj.pres. Jacob Zuma se finansiële raadgewer, 'n korrupte verhouding met Zuma gehad het in 'n poging om staatskontrakte te bekom.

Die ander aanklagte hou verband met R1,28 miljoen se "betalings" aan Zuma deur Shaik se maatskappye.

Na bewering is dié geld afgeskryf en omkoopgeld van R500 000 per jaar is deur die wapenmaatskappy Thomson-CSF aan Zuma betaal om hulle te beskerm teen ondersoeke oor die regering se wapentransaksie.

'n Felle tweestryd woed tussen adv. Billy Downer SC, en sy span namens die staat, en adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik. Die staat laat byvoorbeeld nie juis die volgorde waarin hy getuies wil roep, uit die mou nie.

Van Zyl, 'n voormalige prokureur-generaal van Wes-Kaapland, het die hele Donderdagmiddag en Vrydagoggend probeer om prof. Themba Sono, OD-onderleier en die staat se eerste getuie, in besonderhede oor Shaik se sakebelange te verstrik. Van Zyl se verbete kruisverhoor het slegs baie antwoorde van "ek weet nie" ontlok.

Sono se pogings om oudmin. Mac Maharaj en koning Goodwill Zwelethini van die Zoeloes by sy getuienis te betrek, is deur regter Hilary Squires gestuit, wat aangevoer het hulle kom nie in die hofstukke ter sprake nie.

Downer het die hof egter versoek dat 'n transkripsie van Sono se oorspronklike ondervraging deur die Skerpioene as bewysstuk ingedien word. Sono het glo in dié onderhoud gesê Shaik se Nkobi-groep het sowat R200 000 aan die koning betaal in 'n poging om hom van die IVP na die ANC oor te wen, berig Sapa .

Intussen het me. Kitten Matthews, die SAUK se regsadviseur, by navraag gesê hulle gaan van môre af volstoom begin werk aan hofstukke wat bepleit dat die Shaik-verhoor regstreeks oor die radio uitgesaai word. Squires het verlede week e.tv se aansoek om die hofverrigtinge regstreeks op televisie uit te saai, van die hand gewys.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson en Die Burger.