Publication: Beeld Issued: Date: 2005-04-28 Reporter: Adriaan Basson

Zuma 'het dié Geld Verwag'

 

Publication 

Beeld

Date

2005-04-28

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Adj.pres. Jacob Zuma móés omkoopgeld van 'n Franse wapenmaatskappy verwag het om te kon betaal vir sy tradisionele Zoeloe-woning van R2,4 miljoen.

"Ons het geen bewys dat Zuma toegang tot genoeg ander geld gehad het om sy koste te dek nie," het adv. Billy Downer, SC, hoofaanklaer in die Schabir Shaik-verhoor, gister gesê.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Downer het gister sy slotbetoog afgesluit deur die hof te vra om Shaik op al drie aanklagte teen hom skuldig te bevind.

Hy het die grootste deel van die dag aan die mees prominente aanklag gewy: dat Shaik omkoopgeld van R500 000 per jaar van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF (Thales) vir Zuma gereël het. In ruil daarvoor moes Zuma Thales glo beskerm teen 'n wapenondersoek en sy belange in Suid-Afrika bevorder.

Volgens die staat, wat deurgaans 'n elektroniese tydlyn gebruik het, móés Zuma geld verwag het om vir sy tradisionele Zoeloe-woning by Nkandla in die noorde van KwaZulu-Natal te betaal. Sy salaris was nie genoeg vir só 'n groot uitgawe nie.

"Mnr. Shaik was ook gerus dat Zuma se Nkandla-uitgawes deur 'n ander bron gedek sou word," het Downer gesê. Hy het gesê "Franse geld" was die ander bron.

Volgens Downer is R1 miljoen steeds uitstaande vir die Nkandla-woning en kan Zuma nie sy huisverbandlening betaal nie.

Die hof het vroeër gehoor dat mnr. Vivian Reddy, 'n flambojante Durbanse sakeman, die verbandlening namens hom uitgeneem het.

Die berugte gekodeerde Franse faks, die staat se belangrikste bewysstuk om die "Thales-omkopery" te bewys, was gister die onderwerp van 'n groot deel van Downer se betoog.

Mnr. Alain Thétard, voormalige hoof van Thales se Suid-Afrikaanse filiaal, Thint, het erken hy was die outeur van die oorspronklike omkoopnota, maar sê hy het dit nooit laat tik of faks nie.

Downer het gesê die hof behoort die faks te aanvaar as 'n akkurate en betroubare weergawe van wat gebeur het op 'n vergadering tussen Shaik, Zuma en Thétard op 11 Maart 2000 in Durban.

"Ná die verdediging se saak is ons veral seker dat die faks absoluut die waarheid is," het Downer gesê.

Hy het die verdediging se verweer verwerp dat die kommunikasie tussen Zuma, Shaik en Thétard oor 'n skenking aan die Jacob Zuma Education Trust was.

Adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, begin vanog gend met sy slotbetoog.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.