Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-11 Reporter: JanJan Joubert Reporter: Adriaan Basson

Shaik 'Gelukkig' op Eerste Dag van Hofsaak

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-11

Reporter

Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban - Wat maak 'n mens op die eerste oggend van "die jaar se grootste hofsaak" as jy die beskuldigde is?

Jy trek 'n ontwerperspak en ligblou das (vir kalmte?) aan, parkeer jou motor meters ver van die hof en loop fluks saam met jou broers en lyfwagte tot voor die hof sonder om 'n woord te sê.

Toe mnr. Schabir Shaik Maandagoggend skuins voor tien by die Durbanse hooggeregshof opdaag, het 'n horde honger joernaliste dadelik op hom toegesak.

"Hoe voel u vanoggend, mnr. Shaik?" wou 'n opgeruimde SAUK-verslaggewer - haar mikrofoon onder sy neus gedruk - weet.

"Ek is gelukkig. Geen kommentaar nie," het die beskuldigde gesê en saam met sy broers en lyfwagte vorentoe gebeur.

Baie mense wou by die klein hofdeur in en die polisie het net twee op 'n slag deurgelaat. Die Shaiks moes ook by dié deur in.

Schabir Shaik het vir 'n oomblik agtertoe gekyk en gesien 'n lang lens is op hom gerig. Hy het stip in die lens gestaar en ná 5s sy linker wangspier op 'n bol getrek.

In die hofsaal het Shaik nie in die beskuldigdebank stelling ingeneem nie, maar langs mnr. Reeves Parsee, sy prokureur, gaan sit.

Twee rye agter hom het die res van die broers Shaik gesit - Yunus, Moe en Chippy op 'n ry. Geen vrou het die Shaiks in die hof onderskraag nie.

Die broers het soms na buite gegaan. Daar het Moe op 'n bankie gesit en suig aan sy kromsteelpyp terwyl die motreën neersif op die binnehof buite die hof se deur.

As hy hom so teruggestrek het van die lekker rook, kon jy die rooi blom op sy blou sokkie sien.

Die Shaiks besef die erns van hul posisie. Weg was die gewone windmakerige breedsprakigheid as 'n mens na die familie se welstand verneem.

"Ons familie het 'n besluit geneem dat ons niks gaan sê voordat die saak afgeloop het nie," het Moe effe verwese gesê. Dan steek tekens van die ou vuur weer kop uit: "Maar ná die tyd, dan kan ons sommer behoorlik gesels.

"Dan sal ek die hele kwessie vir jou uitdop. Behoorlik!"

Tydens die 11:00-teepouse het die Shaiks, hul lyfwagte en twee vriende almal om 'n plastiektafel in 'n nabye vis-en-skyfieskafee gaan sit. Drie oopgeskeurde pakkies skyfies moes nege mans voed.

Met erkenning aan Adriaan Basson, Jan-Jan Joubert en die Beeld.