Zuma het Shaik-Vennootskap met Franse Firma Gered, Hoor Hof |
Publication | Die Burger |
Date | 2005-02-24 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Mnr. Schabir Shaik het op sy "goeie vriend en kollega" adj.pres. Jacob Zuma staatgemaak om sy vennootskap met 'n Franse wapenfirma te red nadat oudpres. Nelson Mandela én pres. Thabo Mbeki glo gedink het Shaik is nie 'n geskikte bemagtigingsvennoot nie.
Só het Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, gister in die Durbanse hooggeregshof in sy korrupsie- en bedrogverhoor getuig.
Volgens Shaik het hy in 1998 besef sekere regeringsamptenare beskou sy Nkobi-groep nie as 'n geskikte vennoot vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nie.
Dit was nadat mnr. Jean-Paul Perrier, 'n senior werknemer van die wapenfirma Thomson-CSF, glo aan hom gesê het Mbeki dink nie hy is 'n geskikte SEB-vennoot vir Thomson nie.
Shaik se getuienis dui daarop dat politieke inmengery op die hoogste vlak plaasgevind het om die SEB-vennoot van African Defense Systems (ADS) te bepaal.
ADS het aan die einde van 1998 die R1,3 miljard-kontrak vir die verskaffing van gevegsuites vir die vloot se nuwe fregatte gekry. Shaik se Nkobi Investments was oorspronklik 'n onregstreekse aandeelhouer in ADS, maar is later uitgeskop toe Thomson-CSF (Frankryk) volledig beheer van die aandele oorgeneem het.
Ná Zuma se ingryping is die Nkobi-groep weer by die ADS-aandeelhouding ingesluit.
Volgens Shaik was hy "baie kwaad" oor Mbeki se opinie en het hy gedink dit was onregverdig.
"Zuma was ook ontsteld. Hy het gesê Perrier verstaan duidelik nie die definisie en doel van SEB in die land nie en dat dit reggestel moet word," het Shaik getuig.
Zuma en Shaik het Perrier en ander Thomson-amptenare op 2 Julie 1998 in Londen ontmoet.
Volgens Shaik het Perrier op dié vergadering vertel hoe Mandela glo by 'n banket in Parys tydens 'n gesprek met Perrier sy "voorbehoude" oor die Nkobi-groep te kenne gegee het.
"Perrier het dit nie verstaan nie. Volgens hom was dit (Mandela se opmerkings) 'n verleentheid vir hom en sy kollegas - veral omdat 50% van Thomson-CSF deur die Franse regering besit is," het Shaik getuig.
Zuma het Thomson glo oortuig dat Shaik se "SEB-kwalifikasies" in orde was en onderneem om te voldoen aan Perrier se versoek vir 'n vergadering met Mbeki.
"Zuma het verduidelik hoe die Suid-Afrikaanse regering en die ANC SEB sien - dat SEB nie net swart mense insluit nie, maar alle inwoners van Afrika.
"Daar is 'n persepsie onder buitelandse beleggers dat SEB net op swart mense betrekking het," het Shaik gesê.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.