Werker sê sy en 'Moeilike' Shaik het Gereeld op Mekaar Geskreeu |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-11-18 |
Reporter |
Adriaan Basson, Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - 'n "Gefrustreerde" voormalige werknemer van mnr. Schabir Shaik het glo bitter min geweet van sy Nkobi-groep se doen en late en is verkeerd met haar interpretasie van lenings wat afgeskryf is.
Só het adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, gister in die hooggeregshof hier aangevoer aan die einde van sy kruisondervraging van mev. Celia Bester, 'n oud-rekenmeester by Nkobi.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Bester het gister getuig dat Shaik "baie goed daarmee is om oor iets te praat asof hy alles weet". Sy het dit ook beklemtoon dat hy boekhouding verstaan en die groep se finansiële state, waarin daar glo onreëlmatighede voorkom, onderteken het.
Die staat beweer Shaik is skuldig aan bedrog omdat hy R1,2 miljoen as "ontwikkelingskoste" afgeskryf het teen 'n fiktiewe bate.
Dit is glo bindgeld wat Shaik aan adj.pres. Jacob Zuma betaal het om sy invloed te "koop".
Bester het dit gister ten sterkste ontken dat sy bewus was van die afskrywings en gesê dié besluit moes deur Shaik en die groep se ouditeure in 'n vergadering geneem geword het.
Sy het gesê die geld wat die Nkobi-groep aan Zuma en "ander ministers" betaal het, was na haar mening omkoopgeld. Die "ontwikkelingskoste" wat afgeskryf is, was "alles betalings ten bate van Zuma" terwyl Nkobi "kontrakte gekry het deur Shaik se politieke kontakte".
"Waarom is ministers betaal terwyl die maatskappy met 'n oortrokke fasiliteit om sy oorlewing geveg het? Was dit om die ministers gelukkig te hou," het Bester gevra.
Van Zyl het teruggekap sy maak 'n afleiding dat die betalings omkoopgeld was bloot omdat 'n fout begaan is met die afskryf van ontwikkelingskoste en omdat Zuma se naam in Shaik se leningsrekening opduik.
Van Zyl het Bester se stelling dat Nkobi nie daarop ingestel is om agtergeblewenes te bemagtig nie, gekritiseer. Volgens hom is 90% van Nkobi se werknemers voorheen benadeelde mense.
Volgens Bester het sy en Shaik gereeld op mekaar geskreeu, was hy 'n "moeilike" baas en was sy "verskriklik kwaad en gefrustreerd" toe haar laaste salaris eers deur Nkobi betaal, maar toe teruggetrek is. Ná 'n warm vergadering is haar salaris glo aan haar terugbetaal.
Met erkenning aan Dries Liebenberg, Adriaan Basson en Die Burger.