Goeie Besluit |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-12-13 |
Web Link |
Die nuus dat die regering in beginsel besluit het om 8 tot 14 Airbus A-400M-vragvliegtuie vir die lugmag aan te koop, moet verwelkom word. In die lig van die regering se verbintenis tot stabiliteit in Afrika - iets wat in Suid-Afrika se eie belang is - en die aanwending van die SANW in vredesoperasies as een van die instrumente om dit te bereik, is dit vanselfsprekend dat die weermag ook die toerusting moet hê om dié taak uit te voer.
Soos sake nou staan, het die weermag eenvoudig nie die vermoë om sy groeiende aanwesigheid elders in Afrika te steun nie. Die huidige nege C-130-Herculesse is nie opgewasse vir die taak nie.
Dit is 'n saak waaroor Suid-Afrika in staat moet wees om maklik konsensus te kan bereik. Daarom kom die DA se teenstand oningelig en inderdaad gewoon moedswillig voor. Die party sal versigtig moet wees dat hy sy noodsaaklike opposisierol nie sien as 'n plig om die regering op elke denkbare vlak, nodig en onnodig, teen te staan nie.
Hoe ook al, die besluit oor die Airbusse maak slegs sin indien aan sekere voorwaardes voldoen word. Daar is naamlik ook behoefte aan kleiner vragvliegtuie as die yslike Airbusse. Dus behoort die huidige vloot C-130's, wat tans teen groot koste herbou word, behoue te bly, en moet die verouderde Dakotas (wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer) vervang word.
Dit maak geen sin om die Airbusse aan te koop en die C-130's uit te faseer nie.
Voorts het die vloot dringend een of twee skepe met 'n amfibiese vermoë en 'n helikopterdek nodig, soortgelyk aan die Nederlandse Hr. Ms. Rotterdam, om dieselfde taak as die Airbusse uit te voer, maar dan langs maritieme weg.
Die regering het nou eenmaal begryplikerwys besluit om 'n aktiewe rol in Afrika te speel. Dis nie minder as reg dat hy die weermag behoorlik vir daardie taak toerus nie.
Met erkenning aan Die Burger.