Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-10 Reporter: Dries Liebenberg Reporter:

Zuma-Geld 'vir Goeie Doel'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-10

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.news24.com

 

Durban - 'n Onskuldige versoek vir 'n skenking aan die Jacob Zuma RDP Education-trust.

Dit is mnr. Schabir Shaik se verduideliking van die staat se bewysstukke, wat na bewering daarop dui dat hy en die Franse wapenvervaardiger Thomson-CSF adj.pres. Jacob Zuma omgekoop het in ruil vir beskerming in die wapenondersoek.

Adv. François van Zyl (SC) het met die voorlê van Shaik se weergawe aan die Durbanse hooggeregshof aan die lig gebring dat dié Franse groep vroeër R250 000 geskenk het vir pres. Thabo Mbeki se biblioteek.

Dit was in die lig van dié skenking dat Shaik op 30 September 1999 vir mnr. Alain Thétard, direkteur van Thomson se Suid-Afrikaanse maatskappy, om 'n skenking vir Zuma se onderwystrust gevra het.

Shaik sal getuig dat hy onderneem het om geld vir Zuma se onderwystrust in te samel omdat werkdruk hom nie toegelaat het om as trustee te dien nie, het Van Zyl gesê. Thétard het glo gevra dat Zuma dié versoek persoonlik herhaal.

Dit het gebeur toe die drie op 10 Maart 2000 laatmiddag in die presidensiële woning, King's House, in die Durbanse woonbuurt Morningside ontmoet het.

Shaik ontken dat hy vooraf 'n "kode" gegee is - soos wat die staat beweer - wat Zuma ter bevestiging sou moes herhaal. Zuma het die ontmoeting volgens Shaik weens 'n vol program beëindig.

Geen bedrae is volgens Shaik genoem nie.

Mnr. Jean-Paul Perrier, hoof van Thomson in Frankryk, het volgens Shaik in Mei 2000 ook onderneem dat die groep 'n skenking sou doen.

Uit die min besonderhede wat Van Zyl oor die trust verstrek het, blyk dit dat dit beurse aan studente verskaf het.

'n Aansienlike bedrag is teen die einde van 2000 benodig en Shaik het Thétard glo later aan dié onderneming herinner toe 'n skenking nie gematerialiseer het nie.

"Ek het geen alternatief as om 'n ander uitweg te soek nie," het Shaik in Augustus 2000 in 'n faks aan Thétard gesê.

Dit was vir Shaik 'n verleentheid dat Thomson nie sy belofte gestand gedoen het nie, het Van Zyl gesê.

Dis onder hierdie omstandighede dat oudpres. Nelson Mandela in Desember van daardie jaar R2 miljoen aan Zuma geskenk het.

Die helfte het aan die onderwystrust gegaan en die ander R1 miljoen was bestem vir die trust Development Africa, waarmee een van die Zoeloekoning se paleise opgeknap is.

Mnr. Johan van der Walt van KPMG, aan wie Shaik se weergawe gestel is, het gesê 'n skenking is iets waarop 'n maatskappy trots behoort te wees en dit behoort as sulks in sy boeke aangedui te wees.

In die korrespondensie wat aan die hof voorgelê is, word onder meer verwys na 'n "kwessie", maar nooit 'n skenking nie.

Mnr. Bheki Khumalo, presidensiële woordvoerder, het gister gesê hulle is deur die staat se regsadviseurs aangeraai om nie te reageer op wat in die Shaik-verhoor gesê word nie, berig Jan-Jan Joubert .

Dit sal in die hof getoets moet word en Khumalo het die publiek gevra om die reg sy loop te laat neem.

Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.