'Afgetrede Regter vir Shaik 'n Goeie Idee' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-08 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - 'n Afgetrede regter is 'n goeie keuse om so 'n hoëprofiel-saak aan te hoor as dié van mnr. Schabir Shaik, waarby adj.pres. Jacob Zuma in korrupsiebewerings betrek word.
Só het prof. Robin Palmer van die Universiteit van KwaZulu-Natal se regsfakulteit Vrydag gesê oor die aanwysing van regter Hillary Squires. "Daar kan nie kritiek van politieke vooroordeel teen 'n afgetrede regter ingebring word nie omdat hy geen rede het om die uitvoerende gesag te probeer tevrede stel nie."
Die Skerpioene se ondersoek na beweerde ongerymdhede met Suid-Afrika se wapenaankope, wat tot die Shaik-verhoor gelei het, was al meermale die afgelope jare in omstredenheid gehul.
Só het Lesotho met die reeks korrupsieverhore rondom die Lesotho-hooglandwaterprojek ook besluit om 'n afgetrede regter vir diens terug te roep, het Palmer gesê.
Dié verhore het tot dusver gesorg vir die swaarste straf tot nog toe in Suider-Afrika weens korrupsie nadat die projek se uitvoerende hoof vir 57 jaar tronk toe gestuur is en verskeie internasionale maatskappye met miljoene rande beboet is. Squires (72), wat begin verlede jaar afgetree het, is nie 'n vreemdeling vir hoëprofielsake nie. Hy het die verhoor weens die Shobashobane- slagting behartig. Squires het 13 van die 18 beskuldigdes vir tussen agt jaar en lewenslank tronk toe gestuur.
Vyf is later op appèl vrygespreek.
Die slagting op Kersdag 1995 het opslae gemaak toe 'n groep van sowat 600 mense op ANC-gesinde inwoners van Shobashobane toegesak en 18 mense doodgeskiet en -gekap het.
Die keuse van 'n afgetrede regter maak volgens Palmer ook sin omdat 'n lang verhoor agterstande in die hofrol kan meebring.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.