Wapenfirma 'Betaal Soms vir Goeie Verhoudinge' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-11-29 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - Thint, die Franse wapenmaatskappy wat na bewering omkoopgeld aan adj.pres. Jacob Zuma betaal het, betaal mense glo "van tyd tot tyd" om "nie goeie verhoudinge te belemmer nie".
Só het mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van Thint, glo gesê aan 'n ouditeur wat verantwoordelik was vir Thint se boeke.
Mnr. Schabir Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Mnr. Gary Parker, wat destyds vir die ouditeursfirma Arthur Anderson gewerk het, het Maandag getuig oor 'n ontmoeting in April 2000 met me. Sue Delique, Thint se voormalige sekretaresse, wat hom en 'n kollega oor die beweerde omkopery ingelig het.
Delique, 'n staatsgetuie, het glo aan Parker-hulle gesê daar is groot probleme met Thint se boekhouding, dat dié maatskappy se finansies nie reg bestuur word nie en dat sy bewus is van 'n ooreenkoms om omkoopgeld aan Zuma te betaal in ruil vir die beskerming van Thint teen 'n wapenondersoek. Delique het vroeër getuig sy het dit as haar "plig" geag om die maatskappy se ouditeurs daarvan te vertel.
Volgens Parker was hy bewus van die boekhouprobleme by Thint.
Dié filiaal van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF is as 'n "hoërisiko"-kliënt beskou.
Volgens Parker het Delique 'n A4-grootte koevert by haar gehad en gesê 'n geskrewe nota deur Thétard oor die beweerde omkoopooreenkoms is daarin.
Sy het egter geen dokumente aan Arthur Anderson oorhandig nie.
In Mei 2000 het Thétard glo 'n vergadering met die maatskappy se ouditeurs versoek.
Hy het alle aantygings oor omkopery ontken, maar glo gesê die maatskappy betaal soms geld "om kliënte vir langer tye te hou".
Arthur Anderson het glo teruggegaan na 1999 se finansiële state en dit gefynkam "vir alle transaksies wat lyk soos omkoopgeld".
Hulle het egter niks gevind om Delique se bewerings te versterk nie.
Volgens Parker het Delique Thint glo kort voor die "onthullings" verlaat en was sy gegrief oor salarisgeld wat hulle haar glo nog geskuld het.
"Gegrond hierop en op die jaarlikse finansiële state, het ons bevind geen omkoopgeld is betaal nie," het Parker getuig.
Gevra of Arthur Anderson die bewerings verder sou ondersoek het as hulle in besit was van die "omkoopooreenkoms" tussen Zuma en Thint, het hy gesê dit sou beslis tot verdere ondersoeke gelei het.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.