'Goeie Vriend' Wag 7 Jaar |
Publication | Beeld |
Date | 2004-12-01 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - 'n ANC-lid en "goeie vriend" van adj.pres. Jacob Zuma moes sewe jaar lank wag om R150 000, wat hy aan Zuma geleen het, terug te kry.
"Die lenings was rentevry," het mnr. Abdool Mangerah, 'n sakeman en tesourier van die ANC-tak in KwaDukuza (Stanger), Woensdag in die Shaik-verhoor getuig. "Al wat ek wou hê, was gebede vir my goeie gesondheid."
Mnr. Schabir Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Mangerah se getuienis hou daarmee verband dat Shaik glo R1,2 miljoen se betalings aan of namens Zuma gedoen het om die adjunkpresident se invloed te "koop".
Shaik ontken dié bewering en sê die betalings is bloot as vriend aan Zuma gedoen.
Mangerah het getuig hy was deel van die ANC se struggle en het saam met Zuma in die uitvoerende komitee van die ANC se Suid-Natal-streek gedien.
"Zuma het in 1994 begin om op 'n gereelde grondslag geld by my te leen. As vergoeding het hy debietorders geteken, maar in 'n stadium het ek besef geen geld word aan my terugbetaal nie."
Mangerah se grootste lening aan Zuma was R100 000 op 1 Desember 1995.
"Zuma het my onder die indruk gebring dat daar druk op hom is om sy skuld by finansiële instellings te delg. Hy het 'n korttermyn-lening gevra. Die reëling was dat die R100 000 in een bedrag aan my terugbetaal sou word."
Dit het nie gebeur nie. Zuma het in stadiums glo R1 000 en R4 000 per maand aan Mangerah afbetaal, maar sy "vriend" later meegedeel dat hy (Zuma) "nie geld kan kry om my terug te betaal nie".
"Ek het gesê ek sal as 'n vriend sy skuld verleng," het Mangerah getuig.
In Desember 1996 het Zuma glo gevra dat 'n skedule van sy skuld aan die kantoor van die ANC se Suid-Natal-streek gefaks word.
"Dit was 'n verleentheid vir hom (Zuma). Hy wou dit laat lyk asof die geld deur die ANC aan my verskuldig is en nie deur hom nie."
Die skedule wys betalings aan die ANC en is gerig aan mnr. Zweli Mkhize, die KwaZulu-Natalse LUR vir finansies en toerisme.
Volgens Mangerah het hy, Zuma en Shaik glo daarna 'n vergadering gehad waarop Shaik vooruitgedateerde tjeks as Zuma se terugbetalings aan hom oorhandig het.
"Ek was nogal teleurgesteld. Sy skuld was lank reeds uitstaande en ek het die terugbetalings baie gouer as met vooruitgedateerde tjeks verwag."
Nadat van die tjeks gehop het, het Mangerah sy prokureur instruksies gegee om Shaik en Zuma te kontak. In 1998 is 'n brief aan Shaik gestuur waarluidens "die saak nou verder deur my prokureur hanteer sal word".
Volgens Mangerah is dit selfs oorweeg om aansoek te doen om die likwidasie van Clegton Investments, Shaik se maatskappy wat die betalings aan Mangerah sou doen.
Nadat 'n skulderkenning deur Shaik se prokureur onderteken is, het Mangerah die res van sy geld ontvang. Die laaste tjek vir Zuma se skuld is glo in Desember 2002 betaal.
Adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, het dit aan Mangerah gestel dat Shaik onder die indruk was sy (Mangerah se) lenings aan Zuma is gebruik om Zuma se onkoste te dek vir vredeswerk in 'n "gewelddadige" KwaZulu-Natal.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.