Publication: Beeld Issued: Date: 2004-10-25 Reporter: Adriaan Basson

Het Hulle Geweet?

 

Publication 

Beeld

Date 2004-10-25

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Het oudpres. Nelson Mandela en die destydse adj.pres. Thabo Mbeki geweet die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF gaan deel wees van die regering se wapentransaksie nog voordat dié besluit amptelik was?

Dít is die vraag nadat regter Hilary Squires Maandag in die Durbanse hooggeregshof gehoor het daar is luidens 'n onafhanklike ouditeursverslag "aanduidings" dat Mandela en Mbeki voor 18 November 1998 - toe die kabinet 'n finale besluit oor die korvette-verskaffers geneem het - betrokke was by "onderhandelings en gesprekke" met Thomson-CSF.

Die ouditeursfirma KPMG moes onder meer, in opdrag van die Nasionale Vervolgingsgesag (NV), kyk na mnr. Schabir Shaik se betrokkenheid by die wapentransaksie deur middel van sy Nkobi- groep se "indirekte" aandeelhouding in African Defence Systems (ADS).

Shaik staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

ADS het op 24 November 1998 die kontrak gekry vir die verskaffing van gevegsuites vir die vloot se nuwe korvette. Die kontrak is R1.3 miljard werd.

Mnr. Johan van der Walt, direkteur van KMPG en sleutelgetuie in die staat se saak, het Maandag die verslag voorgelees. Daarluidens was "minstens" Mandela en Mbeki betrokke by gesprekke voordat die wapenkontrakte toegeken is.

"Dit blyk egter dat hul betrokkenheid beperk was tot pogings om dispute op te los oor die swartbemagtigingskomponent wat weerspieël word in die aandeelhoudingstruktuur van Thomson- CSF en ADS," lui die verslag.

As die KPMG-verslag reg is, was Thomson-CSF (Thint), wat 'n 80%-aandeelhouer van ADS is, reeds in 1997 verseker van 'n deel van die korvette-kontrak.

In 'n faks gedateer 28 November 1997, het mnr. Pierre Moynot, wat toe Thomson-CSF se Suid-Afrikaanse hoof was, aan twee van sy kollegas in Frankryk geskryf oor 'n gesprek wat hy gehad het met die persoon wat die kortlys vir die wapenkontrakte saamstel.

Dié sogenaamde "tailleur" het glo aan Moynot gesê hy het die versekering van Mbeki (toe adjunkpresident) gekry dat die kontrak vir onder meer die gevegsuites aan Thomson-CSF sou gaan.

Op 18 November 1998 het die kabinet 'n finale besluit oor die korvet-verskaffer geneem en op 24 November 1998 is aangekondig dat Thomson-CFS (in die vorm van ADS) die suites sou verskaf.

Mnr. Bheki Khumalo, Mbeki se woordvoerder, het Maandagmiddag by navraag gesê mense moet oppas om die hofsaak as 'n lotery te sien en lukraak almal swart te smeer wie se name ter sprake kom, berig Jan-Jan Joubert.

"Die saak is nog sub judice en die getuienis voor die hof is ongetoets. Ons was met die Skerpioene in kontak en die presidensie is oortuig daarvan, en sal dit tot die laaste van ons krag verdedig, dat pres. Mbeki nie in hierdie hofsaak betrek word of enigiets verkeerd gedoen het nie."

Me. Zelda la Grange, Mandela se woordvoerder, het gesê sy kantoor is nie bewus van enige betrokkenheid by die saak nie en dat hulle die bewerings dringend sal ondersoek.

In die verslag is ook bevind:

Die Thomson-groep was onder die indruk dat "politieke konnektiwiteit" vooraf nodig is om oorweeg te kan word in die toekenning van die wapenkontrakte;

Shaik het ook so gedink en hy het sy politieke verbintenisse gesien as bydraend tot Thomson-CSF se sukses.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.