Publication: Beeld Issued: Date: 2005-01-31 Reporter: Susan Segar Reporter:

Nóg 'n Hoëprofiel-hofsaak kom ná Shaik-sage

 

Publication 

Beeld

Date

2005-01-31

Reporter

Susan Segar

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad. - Terwyl die verhoor van die Durbanse sakeman mnr. Schabir Shaik einde se kant toe staan, het dit aan die lig gekom dat 'n soortgelyke hoëprofielhofsaak gaan begin wat verband hou met die regering se wapentransaksie.

Mnr. Richard Young, die Kaapse sakeman wat 'n R150 miljoen- bod verloor het om gevegsuites vir nuwe korvette aan die Suid-Afrikaanse vloot te verskaf, het 'n beslissing van die Pretoriase hooggeregshof ontvang wat hom effektief die reg gee om voort te gaan met 'n verhoor om die transaksie te beveg.

Regter George Webster het vandeesweek teen die regsuitsonderings deur die departement van verdediging, Armscor en African Defence Systems (ADS), die maatskappy wat die kontrak gewen het, beslis. Shaik en Thomson-CSF is aandeelhouers van ADS.

Young het die bod verloor nadat hy glo vir jare onder die indruk gebring is dat die kontrak aan hom toegeken sal word. Die massiewe verliese het aanleiding gegee dat hy die saak hof toe geneem het.

Young het in Augustus 2002 sy besonderhede vir die eis ingedien, maar die drie verweerders het regsuitsonderings uitgelig in 'n poging om Young se eis van R150 miljoen vir skade, ter syde te stel. Hulle het op twee regspunte gesteun - dat Young nie 'n geldige eis het nie en dat die besonderhede vir die eis nie duidelik is om die eis te steun nie.

Die saak het in Februarie verlede jaar 'n draai in die hof gemaak, 18 maande nadat Young sy aanvanklike eis ná sowat 'n jaar ingedien het en die uitspraak is Donderdag gelewer.

Terwyl die uitspraak van Young en sy regsspan verwag om klein wysigings te maak in die bewoording van sy eis, word daar effektief in Young se guns beslis.

Met erkenning aan Susan Segar en die Beeld.