Hof-TV |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-13 |
Web Link |
Die kwessie van TV-kameras tydens hofverrigtinge is 'n tweesnydende swaard.
Enersyds is daar die belang van reg en geregtigheid, die verskanste regte van aangeklaagdes en die staat op 'n billike en regverdige verhoor, die moontlikheid dat getuies deur TV-kameras gë?ntimideer kan word en die logiese feit dat hofverrigtinge nie ontwrig mag word nie.
Só gesien is die beslissing van regter Hilary Squires dat TV-kameras nie tydens die verhoor van mnr. Schabir Shaik toegelaat sal word nie, verstaanbaar.
Daarteenoor staan die openbare belang. Die Shaik-verhoor is een van daardie uitsonderlike verhore wat vir die hele Suid-Afrika van belang is. Dit gaan onregstreeks om belastingbetalers se geld (die wapentransaksies) en die posisie van die tweede magtigste man in die land (adj.-pres. Jacob Zuma). In só 'n saak behoort die tegnologie ingespan te word om die verhoor aan die wydste moontlike gehoor te wys.
Squires sê as die kameras onopsigtelik was, sou hy dalk anders besluit het. TV-stasies moet dit in gedagte te hou en betyds met die verhoorregter, die advokate vir die verskillende partye en die regter-president van die betrokke hof onderhandel oor die plasing van onopsigtelike kameras.
Die konstitusionele hof laat lank reeds TV-opnames toe, maar in dié hof word natuurlik geen getuienis aangehoor nie en kan 'n mens die kameras nie sien nie. Só word alle belange gedien. Die hof word nie 'n sirkus nie en die openbare belang en die media se vryheid word erken.
Met erkenning aan die Beeld.