Adj.Pres. se Betrokkenheid in Hof Betwis |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-11-09 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Wat was die betrokkenheid van adj.pres. Jacob Zuma in mnr. Schabir Shaik se poging om 'n deel van die regering se wapentransaksie te bekom?
Hierdie vraag het gistermiddag 'n hewige woordestryd tussen adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, en mnr. Johan van der Walt, direkteur van die ouditeursfirma KPMG, ontlok.
Van Zyl het aangevoer Zuma se betrokkenheid by die wapentransaksie was niks meer as dié van oudpres. Nelson Mandela en pres. Thabo Mbeki nie: om dispute op te los oor die swartbemagtingsvennote van African Defence Systems (ADS).
Van der Walt het met hom verskil en gesê Zuma se betrokkenheid spruit uit 'n diep ongelukkigheid oor die oorspronklike weglating van Shaik se Nkobi-groep uit ADS.
Volgens hom is dit duidelik Zuma was betrokke om te verseker dat Nkobi Investments weer deel word van die wapentransaksie.
Van Zyl het dit beklemtoon dat Zuma in sy hoedanigheid as onderleier van die ANC betrek is by gesprekke met Thomson-CSF.
"Wat meer het Zuma gedoen?" wou Van Zyl telkens weet.
Van der Walt het voorbeelde aangehaal uit notas en telefoongesprekke waarby Zuma betrek is.
Uiteindelik moes regter Hilary Squires ingryp: daar is 'n brief (aan Thomson-CSF) waarin Shaik Zuma noem, en "positiewe" aanduidings dat Zuma twee vergaderings met Thomson-CSF bygewoon het.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.